Twee lede van die komitee, dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, en mnr. Andrew Whitfield, die DA se skaduminister vir polisie, wou weet of plaasaanvalle en –moorde 'n prioriteit is.

In die spesiale aanpassingbegroting is R3,7 miljard vir sigbare polisiëring toegestaan.

Groenewald het daarop gewys dat op een dag in Julie 11 plaasaanvalle voorgekom het.

Whitfield wou weet of van die ekstra geld wat vir sigbare polisiëring toegestaan is, aangewend sal word om die landelike veiligheidstrategie te ondersteun om boere en werkers te beveilig, veral omdat plaasaanvalle oor die afgelope maande en gedurende die inperkingstydperk toegeneem het.

Cele het voorts gesê dat die werksverhouding met boere voortdurend verbeter word. Hy het uitgewys hoe die samewerking met boere in Limpopo gelei het tot ’n baie groot operasie en dat hierdie soort inisiatiewe uitgebrei sal word.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het bevestig dat landelike veiligheid as ’n prioriteit geag word met die verhoging in die begroting vir sigbare polisiëring en dat dit ook ten doel sal hê om te reageer op die toename in plaasmoorde. Daar word ook gekyk na die modus operandi van plaasmoorde. Hy het verder benadruk dat wanneer dit by polisiëring kom, hulle begroting nooit genoeg is nie.

Polisie se statistiek

Die polisie het die laaste kwartaal van die 2019-’20-boekjaar - van Januarie tot Maart 2020 - met die eerste kwartaal van die 2020-'21-boekjaar – van April tot Junie 2020 - vergelyk. Lt.genl. Moeketsi Sempe, verantwoordelik vir sigbare polisiering, het gesê volgens die polisie se statistiek daar ’n verhoging van een moord op ’n plaas gedurende die tydperke was. Vanaf Januarie tot Maart was daar ses moorde en vanaf April tot Junie was die getal sewe.

'n Vergelyking van die aantal plaasaanvalle tussen die tydperke dui egter ’n skerp daling aan. “Ons het 80 voorvalle gehad vanaf Januarie tot Maart en vanaf April tot Junie was dit 48.”

Hy het gesê die landelike veiligheidstrategie word saam met georganiseerde landbou geïmplementeer om te verseker dat die toename van aanvalle aangespreek word en dat hulle bekommerd is oor die styging vanaf ses na sewe moorde in die twee tydperke wat met mekaar vergelyk is.