“Ek is nou meer gemotiveer om daagliks werk toe te kom en sal voortgaan om te verseker dat ek kan bydra en probeer om selfs die kleinste verskil in my gemeenskap te maak.” Dit is deel van die boodskap wat mnr. Charles Back van die Fairview-landgoed buite die Paarl op Facebook geplaas het nadat hy vanoggend vroeg in sy huis op die plaas aangeval is.

Back is aangeval terwyl hy geslaap het. Me. Liesbet Slabbert, Back se assistent, het vroeër aan Landbou.com gesê drie verdagtes het vermoedelik die huis binnegekom nadat hulle die veiligheidshekke met die breekyster oopgebreek het.

Back sê op Fairview se Facebookblad dat hy besluit het om reguit plaas toe te gaan nadat hy vanoggend uit die hospital ontslaan is “om aan my millenniër-eweknieë te wys wat beteken ’n werklike verbintenis tot werk.”

Hy sê die aanval was liggaamlik en emosioneel pynlik. “Ek is met ’n breekyster geslaan, van my bene is gebreek, ek is in ’n mat opgerol en in my huis vir dood agtergelaat. My ontsnapping is niks minder as wonderbaarlik nie, en ek voel asof ek uit die dood teruggekom het. Ek is so dankbaar om lewend te wees, en my hart gaan uit na al die mense wat hul familielede verloor het in die voortdurende plaasaanvalle.

Nie polities verdelend

"Ek wil hê dit moet bekend wees dat hierdie aanval op geen manier polities verdelend was nie, maar dat dit net drie bendelede was wat gemotiveer is deur hul eie belange. Ek glo in die waardes waarop hierdie land gebou is en hoop vir harmonie en vrede,” sê Back.

In ’n vroeëre onderhoud met Landbouweekblad het Back gesê dat hy ongemaklik is met die misdaad wat in die Wes-Kaap en spesifiek in sy omgewing kop uitsteek. Dit het gevolg op ’n vlaag inbrake op plase in die omgewing en ’n plaasaanval en -moord wat tot ’n landwye optog teen misdaad gelei het.

Back het gesê hy probeer werk skep vir almal om hom, aangesien hy dink dis ’n goeie manier om misdaad te bekamp. Die feit dat misdaad toeneem, is wel iets wat hom persoonlik baie geraak het. “Dit verander ’n mens se psige; dit tref my persoonlik baie en dit raak my, hoor. Dit het my in my siel laat gaan rondkrap oor wat ek besig is om te doen, maar ek wil deel wees van die oplossing, nie die probleem nie.”