Dit is ’n yslike teleurstelling sê mnr. Pelham Jones, voorsitter van die PROA. “As privaat renostereienaars doen ons alles in ons vermoë om ons groot renosterbevolking in privaat besit volhoubaar te benut, en dit voel of ons nêrens kom nie.”

Jones is veral gefrustreerd met die feit dat die Suid-Afrikaanse Regering nog geen besluit geneem het oor ’n voorstel vir wettige handel by volgende jaar se Cites-beraad nie. “Voorstelle moet voor 24 Desember ingehandig word en ons Parlement verdaag op 7 Desember. Tyd is besig om uit te loop,” waarsku hy.

Jones sê die PROA het reeds in Maart vanjaar ’n voorlegging van twee en ’n halfuur aan die Minister van Omgewingsake en haar senior amptenare gedoen, waarin hulle uiteengesit het hoe wettige handel kan plaasvind op ’n manier waardeur die hele bedryf en die Suid-Afrikaanse ekonomie baat kan vind.

“Boonop het China nou oor die vloer vir ons geknipoog en basies gesê kom gesels met ons oor handel, en steeds doen die Regering net mooi niks nie!”

Jones meen die staat kom nie sy verpligting teenoor renostereienaars na nie. “Ons onderhou en bewaar 7 000 witrenosters en omtrent 450 swartrenosters sonder enige hulp of ondersteuning van ons Regering.”

Hy meen die Regering moet besluit of hy aansoek wil doen om wettige handel en indien nie, skuld hy die Suid-Afrikaanse publiek ’n rede. “Ons kan nie bekostig om nog drie jaar te wag nie,” sê Jones. Suid-Afrika het sedert die vorige Cites-beraad in 2016 meer as 3 000 renosters weens stropery verloor.

Dit is nie duidelik hoeveel renosters in Suid-Afrika oor is nie, omdat die statistiek vir diere in nasionale en provinsiale parke nog nie bekend gemaak is nie. Jones raam daar is sowat 16 500 renosters in die land. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.