Die inmaakvrugtebedryf is bekommerd dat die Chinese mark – een van die grootste markplekke vir Suid­-Afrikaanse geblikte perskes – begin “toeklap”.

Mnr. Wiehahn Victor, hoof­ uitvoerende beampte van die Inmaakvrugte-produsentevereniging (IPV) het tydens ’n inligtingsvergadering op Worcester gesê die Chinese mark is op die oomblik ’n “wild card”. “Ons was positief dat dit ’n onbeperkte mark is, maar nou is ons nie meer seker nie. Die mark plat nou af. Daar was vraagtekens oor die laaste klompie verkooptransaksies in China.”

Sowat 90% van plaaslike inmaakvrugte word uitgevoer. Die inmaakbedryf het reeds in 2004 met China begin saamwerk. Die vraag na inmaakvrugte in China groei sterk en hul invoere kom hoofsaaklik uit Suid-­Afrika. Veral die Kakamas-­tipe perske is gewild onder Chinese hotelle en bakkerye danksy die groter vrugte, tekstuur en mooi kleur.

Volgens Victor is dit moontlik dat inmaakvrugte-­uitvoere na China nou die boonste punt van die kurwe bereik het, maar hy hoop steeds daar is nog groeigeleenthede in dié Asiese reus. Hoewel die Chinese ook baie inmaakvrugte produseer is die gehalte is nie so goed soos Suid-­Afrikaanse vrugte nie.

“Ons het redelik maklik saamgewerk en hulle was altyd bereid om inligting te deel, maar die laaste tyd klap hulle heeltemal toe. Baie uitvoerders kla hieroor. Ons verstaan nie wat aangaan nie, maar is bekommerd dat die kontak minder raak.” Victor sê die verlangsaming van die Chinese ekonomie kan ’n moontlike oorsaak wees. “Insetkoste druk hulle ook en die Chinese kla veral oor energie­ en blikkostes. Die Chinese situasie raak ons inmaakbedryf beslis.”

Chinese ekonomie plat af

Volgens prof. Daan Louw, besturende direkteur van Optimal Agricultural Business Systems (OABS), verkeer die Chinese ekonomie onder groot druk. Dit is slegte nuus vir Suid-­Afrika.

“Hul ekonomiese groeikoers het amper halveer van 11% na 6%. Dit het ’n groot invloed op Afrika en Suid-­Afrika. Die bande tussen China en Suid­-Afrika is al so sterk dat wanneer China se groeikoers met ’n persentasie daal, daal Suid-­Afrika s’n my tussen 0,2% en 0,7%. Dit is omdat Suid-­Afrika so baie metale, veral yster, en steenkool soontoe uitvoer.”

China is steeds die tweede grootste ekonomie ter wêreld, maar volgens Louw haal China nou Amerika vinnig in vir die top­posisie. Rusland, ’n belangrike mark vir Suid-­Afrikaanse perskepuree, is nog ’n mark waaroor daar kommer heers.

“Hulle koop ons produkte, maar daar is haakplekke. Selfs Griekeland, vir wie dit die maklikste is om inmaakvrugte in Rusland te bemark, want hulle kan dit per trein stuur, sukkel met verkope in Rusland.”