Afgevaardigdes van Suid-Afrika en China het vandeesweek op die kongres van die Internasionale Woltekstielorganisasie (IWTO) in Venesië op versoek van Suid-Afrika vergader. Die rede vir die vergadering was om eerstehands inligting van die huidige status van die verbod deur China van alle wol, hetsy verwerk of vet, te verkry en om ’n platform daar te stel vir die bespreking van biosekerheidskwessies en ander moontlike handelsversperrings vir die verhandeling van wol tussen die twee lande.

“Ná die samesprekings is dit duidelik dat daar ’n aansienlike vertraging sal wees voordat China die verbod sal ophef,” sê mnr. Deon Saayman, bestuurder van Cape Wools, in ’n verklaring.

Hy sê dat produsente met hulle makelaars moet konsulteer oor bemarkingsbesluite. China koop tans nagenoeg 70% van Suid-Afrika se wol aan.

Voorrang

Die Chinese het onder meer gesê dat ’n drastiese skuif by Chinese staatsdepartemente, landbou en doeane insluit, plaasgevind het. Die uitbreking van ander dieresiektes in China geniet tans voorrang by Chinese owerhede. Volgens die jongste inligting op die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) se webwerf is Afrikavarkgriep en hoogs aansteeklike voëlgriep twee dieresiektes wat tans vleisproduksie in China bedreig.

Chinese amptenare het ook genoem dat die herhaaldelike uitbrekings van bek-en-klouseer in Suid-Afrika rede tot kommer is. Verdere bilaterale handelsbesoeke tussen die lande sal ook geen gunstige resultate lewer nie.

Daarby geniet pogings om die moeilike handelsomgewing tussen China en Amerika te verbeter ook baie aandag by Chinese owerhede.

Volgens die Chinese afgevaardigdes moet Suid-Afrika eers sy bek-en-klouseervrye status van die OIE verkry. Dan sal die Chinese regering steeds ’n afkoelperiode instel.

Hou wol op skaap se rug

Mnr. Guillau du Toit, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging, sê boere moet die wol so lank as moontlik op die rug van die skaap hou aangesien die prys van kortwol onder druk is.

Hoewel wolpryse ten spyte van die verbod op uitvoer na China in Februarie relatief stabiel gebly het, is slegs 75,5% van die aanbieding op die jongste wolveiling verkoop.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.