Dié plan, soos al die voriges, toon belofte, maar systap ook die groot strukturele hindernisse tot ekonomiese groei, soos die hervorming van die arbeidsmark.

Daar is ook die staat se onvermoë om enigiets tot uitvoering te bring. As die private sektor dus nie die leiding neem nie, bly die plan doodgebore. Die staat bied eenvoudig net te min, en geen organisatoriese of geldelike hulp kan verwag word nie. Die staatskas is leeg vir almal buiten die SAA.

Suid-Afrika het egter nou ’n bietjie hoop baie meer nodig as enige geldelike inspuiting. Die hoop dat dinge sal uitwerk, dat die land werk sal kan skep, dat mense se eiendom nie weggevat gaan word nie en dat korrupsie nie geduld gaan word nie. Dit sal die goedkoopste en doeltreffendste stimulus vir die ekonomie wees. Honderde miljarde rande sal dadelik terugvloei in die ekonomie as mense weer ’n toekoms hier sien.

Daar ís tekens van hoop, soos die pogings om uiteindelik te begin om uitvoermarkte vir Suid-Afrika se landbouprodukte te ontgin — ná jare se afskeep wat die plaaslike landbou al hoe verder agter sy mededingers laat raak het. Maar wat van die hawens se vermoë? En elektrisiteit?

Só word mense se geloof in die land geknou. Die irrasionele mistasting van die staat tydens die Covid-19-pandemie het ook nie gehelp nie. Pleks daarvan om ’n nuwe spilpunt op te rig of ’n fabriek te bou, neem mense ’n wag-en-kyk-houding in, terwyl geld oorsee vloei as ’n skans teen wat kan gebeur.

Dit is presies hoekom Bheki Cele, minister van polisie, se uitbarsting op Normandien in KwaZulu-Natal so onverskoonbaar is. Nie net het dit ’n onverkwiklike situasie veelvoudig vererger nie, maar dit het die land ook miljarde rande gekos. Toe mense sien hoe Suid-Afrika se minister van polisie wetsgehoorsame burgers se griewe met minagting bejeën, het die sentiment dadelik verhard. Want hoe is so iets moontlik? Soos dikwels in die staatsdiens is die antwoord eenvoudig: blote onkunde.

Dit blyk dat die aandrang van die voorsitter van die boerevereniging dat Cele sy mening oor rondloperdiere duidelik uitstippel, Cele aanstoot gegee het. Soos mense op die platteland baie goed weet, beskou die polisie oortredings soos rondloperdiere as blote beuselagtighede.

Vir boere hou dit egter ernstige gevolge in. Bulle wat draadspring, kan ’n hele koeikudde permanent met geslagsiektes besmet, en rondloperhonde kan honderde skape in ’n middag verskeur. Dit lei daartoe dat skaapboerderye om die meeste dorpies byna onmoontlik is.

Almal moet ’n bydrae lewer as ’n mens die plofbaarheid van ’n Normandien wil vermy. Die polisie moet wet en orde handhaaf. ’n Funksionele munisipaliteit moet plaaslike verordenings afdwing en dienste voorsien. Grondeise moet afgehandel word. As dit nie gebeur nie, soos op Normandien, ontstaan daar ’n vakuum van wanorde waarin enigiemand by ’n gemeenskapsvergadering kan opdaag en boere van allerlei ernstige ongerymdhede beskuldig, sonder gevolge.

En dít kan jy helaas nie met ’n Nedlac-plan oplos nie, al kos dit die land miljarde rande.