Hy het hierdie opmerking na bewering op daardie onverkwiklike vergadering op Normandien in KwaZulu-Natal gemaak toe hy die gemeenskap se probleme eerstehands wou aanhoor in die nadraai van die moord op die Rafferty-egpaar op hul plaas. Dié affêre het egter sleg afgeloop, met Cele wat uiteindelik baie van die skuld vir die gemeenskap se frustrasies en ontevredenheid op die boere gepak het.

Dit lyk egter nou of Cele dalk die diep ongemaklikheid verstaan wat sy woorde by boere ontlok het. Seker dié dat hy Landbouweekblad by die persombudsman gaan verkla het oor ons “vals beriggewing”. Ons staan natuurlik by ons storie — dit is immers onafhanklik aan ons bevestig deur drie boere wat die vergadering bygewoon het en Zoeloe magtig is.

Is alles net ’n misverstand? Het die presiese betekenis van die minister se woorde miskien in die vertaling — eers van Zoeloe na Engels en toe weer na Afrikaans — verlore gegaan? Het die boere dalk die minister se Zoeloe-idioom verkeerd verstaan? Dit is seker moontlik, maar dit is ook nie noodwendig ter sake nie.

Dit wil al hoe meer voorkom of die kern van Normandien se probleme die polisie se oënskynlike onvermoë is om enigsins wet en orde in die distrik te handhaaf. Dit dra regstreeks by tot die gemeenskap se onuithoudbare vlakke van frustrasie.

Die polisie se ondoeltreffendheid was ook ter sprake toe die jong plaasbestuurder Brendin Horner op ’n plaas by Paul Roux in die Vrystaat deur vermeende veediewe oorval en vermoor is, blykbaar lede van dieselfde sindikaat oor wie boere al maande lank by die polisie kla.

Die ontsteltenis oor Cele se onlangse vae terugvoersessie aan boere op Bethlehem oor planne om misdaad in die Oos-Vrystaat hok te slaan, is dus te verstane. “ ’n Vermorsing van almal se tyd,” het mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee, gesê. Net weer “ ’n gepraat”.

Intussen was daar nog moorde. Mark Regal het op ’n plaas by Odendaalsrus gesterf. Teboho Machakela is in dieselfde omgewing doodgeskiet. Die jong Eddie Hills is oorlede ’n week ná ’n aanval op die familieplaas by Hennenman waarin sy pa, Pieter, ook dood is. Wat anders as gebede en medelye kan ’n mens aan hierdie families bied?

Die kern van die probleem, soos almal op die platteland weet, is die totale ineenstorting van amptelike gesag. Hetsy dit die plaaslike munisipaliteit is wat maar net as ’n middel tot selfverryking beskou word, of ’n polisiemag wat van ernstige misdadigheid, soos veediefstal, verdink word — die staat is vir alle praktiese doeleindes afwesig.

Daar heers ’n totale verbreking van die fundamentele kontrak tussen ’n staat en sy mense. Boonop word die vakuum wat die afwesige staat agterlaat, gevul met ’n onverbiddelike vlaag misdaad waaraan landelike gemeenskape daagliks onderwerp word. Die fundamenteelste beginsel van daardie kontrak tussen ’n staat en sy mense word verbreek, naamlik die staat se verantwoordelikheid om sy burgers veilig te hou.

Dít, minister Cele, is die gewigtige werklikheid waarmee u te make het — en nie ’n gekibbel oor wat gesê of nie gesê is nie. Ons wens u sterkte toe en sal help waar ons kan.