Die skaal, ywer en skaamteloosheid waarmee Suid-Afrika die afgelope dekade rot en kaal besteel is, is eenvoudig verbysterend.

Teen die tempo waarteen gesteel is, wonder ’n mens of daar hoegenaamd gewerk is. Die kans is ook skraal dat die verantwoordelike blikskottels binnekort agter tralies gaan sit.

Ons het ons wetstoepassers en vervolgingsgesag in so ’n mate verwaarloos dat ons stomme staatsaanklaers sukkel om selfs die eenvoudigste saak te pak, soos om die Guptas se korrupte betrokkenheid by die Estina-melkprojek te bewys.

Maar wat verwag ’n mens wanneer die polisie in Noordwes blykbaar self miljarde rande verduister het? Oudpres. Jacob Zuma en sy plunderaarsbende het hul “werk” deeglik gedoen. Terwyl ’n mens pres. Cyril Ramaposa se besluit om die verhore te hou, verwelkom, sal die President en sy span baie meer moet doen om hul aandadigheid aan die gemors waarin ons sit, te verduidelik.

Nie net het die hele spul toegekyk toe Zuma se bende ons besteel het nie; hulle het ook stilgebly toe propaganda doelbewus versprei is om die spoor van die diefstal te verdoesel.

Radikale ekonomiese transformasie, die beëindiging van “witmonopoliekapitaal” en onteiening sonder vergoeding het kwansuis ten doel om die armes op te hef, terwyl almal weet dit is juis die armes wat die ergste deur die gestelery getref word.

BTW moes byvoorbeeld verhoog word om ’n gat van byna R50 miljard in die begroting toe te stop. Ná byna tien jaar se leuens sukkel ons deesdae met die waarheid.

Die werklikheid het egter ’n manier om die waarheid hard tuis te bring. Verlede week het ons gehoor die ekonomie het weer in ’n resessie verval, en dié keer kan die landbou nie help nie. Dit is juis omdat die landbou in die tweede kwartaal met byna 30% in die hek geduik het dat die hele ekonomie geraak word.

Die redes? Die droogte woed plek-plek nog erg voort, terwyl die nadraai elders kwaai gevoel word namate koopkrag deur aansienlik meer skuld geknou word. Buitengewone stygings in energiepryse, onverskillige beleidsonsekerheid wat die wisselkoers só laat verswak dat die landbou se invoerinflasie lelik aangevuur word, en die kosteknyptang se strop wat ál stywer trek, vryf nóg sout in die wonde.

Desondanks volhard ons met ons roekelose praatjies oor grondonteiening, min gepla deur beleggings wat verlangsaam en grondaankope wat afneem, soos mnr. Johann Bornman van Agri Development Solutions bevind het, terwyl premies vir huurgrond betaal word.

Dit lyk of grondwaardes reeds seergekry het, en dit is ondenkbaar hoeveel kwesbaarder boere se balansstaat geword het, asook aan hoeveel meer slegte skuld banke nou blootgestel is.

Pres. Ramaphosa, ons kan nie meer so aankarring nie. Ons het ’n krisis. En dit is jóú party, wat die afgelope 23 jaar gemaak het nes hy wil, wat ons tot hier gebring het.

Besef dit asseblief en gryp die hulp wat aangebied word met albei hande aan — van individuele boere tot die georganiseerde landbou.

Die onlangse vergadering tussen landbouleiers en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister in die Presidensie, om oor ’n groeiplan vir die landbou te praat, is bemoedigend. Die tyd is egter min en ’n lang pad lê voor. Die skade wat reggemaak moet word, soos ons elke dag in die verhore hoor, is ontstellend groot.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.