Van die groot boerefamilies, soos die Cloetes, is daar nog net ’n handjie vol oor. Ander, soos die Hillhouses en Birches, het heeltemal verdwyn. Soos die ou boere sukkel om kop bo water te hou, raak dit ook al hoe moeiliker vir nuwe toetreders om te oorleef. Saterdae is dit stiller by die gholfklub, en die vetveeveilings raak minder.

Met die landbou wat om verskeie redes minder winsgewend raak, sukkel veral middelslag-familieboerderye om ’n bestaan te maak. Om dun marges te klop, moet plase al hoe groter raak en boeregemeenskappe kleiner. Maar hoe kan ’n mens hierdie probleem oplos?

Die plattelandse dorpies het verval en die munisipaliteite stel duidelik meer daarin belang om te steel as om probleme op te los. Dit is seker onvermydelik om vasgevang te raak in dié pessimisme (sommige sal sê werklikheid). Dit is egter ook hoekom ’n mens die oplossings miskyk wat reeds bestaan.

Katoen bly ’n sprekende voorbeeld van hoe ’n bedryf in ’n groot mate sy eie winsgewendheid kan bepaal. Volhoubaarheid kan bewerkstellig word as almal in die waardeketting eerlik en deursigtig is oor hul winsmarges. Die pluimvee- en suikerbedryf is besig met soortgelyke planne.

Die staat wend ook ’n hernieude poging aan om nuwe uitvoermarkte vir Suid-Afrika se landbouprodukte te vind, veral in China. Dit kan ’n enorme verskil aan boerderye se winsgewendheid maak indien die koronavirus nie ’n stokkie daarvoor steek nie.

Verpligte naspeurbaarheid in die chaotiese nadraai van die bek-en-klouseeruitbreking kan ook net die vonk wees om die land se beesvleisuitvoer weer behoorlik te laat opvlam. Plaaslike beesvleispryse kan verdubbel, en dit kan ’n uitkoms bied vir my wêreld met sy ekstensiewe beesplase.

’n Private landbou-ontwikkelingsagentskap is ook onlangs bekend gestel. Dit kan miljarde rande se beleggings in die landbou stort. Skeptici kan gerus gaan kyk na die welvaart wat ander private inisiatiewe geskep het, soos Witzenberg-Pals in die vrugte-uitvoerbedryf en Amadlelo Agri in die suiwelbedryf.

Op produksievlak is daar ook goeie nuus. Die landbou staan op die rand van ’n digitale revolusie. Min boere besef hoe die nuwegeslag-presisietegnologie risiko’s kan uitskakel wat voorheen byna onbestuurbaar was. Nuwe digitale gereedskap, soos masjienleer, kan ’n enorme hoeveelheid data uit ingewikkelde produksieprobleme onttrek en tot een eenvoudige grafiek verwerk.

Boere besef ook al hoe meer dat hul heil in die oorspronklike bloudruk van die natuur lê. Danksy dié bloudruk sal plase nie net goedkoper raak om te bestuur nie, maar baie produktiewer. Landbouweekblad het verlede week berig oor die buitengewone sukses wat Danie Slabbert van Reitz behaal met sy ultrahoëdrukstrookbeweidingstelsel vir beeste.

Sy drakrag het verdubbel en die spesiesamestelling van die veld is deesdae verstommend! Kom kyk egter gerus self tydens die herlewingslandboukonferensie wat LBW eersdaags saam met Danie en die Riemland-studiegroep aanbied. Ons bied ook soortgelyke konferensies op Ottosdal en Somerset-Wes aan.

Die punt is as dié goeie dinge net ’n bietjie vasstrapplek kan kry, kan dit ’n enorme verskil maak. Wie weet, miskien reël ons binnekort weer flink aan vetveeveilings in die Noordoos-Kaap!