Hy was ook een van die beste base vir wie ek al gewerk het. Sy sakevernuf is op die harde manier aangeleer, en vir hom was sentiment iets wat jy vir jou kleinkinders bêre. Hy het graag vir ons gesê: “No good deed will go unpunished.”

Oor die jare is Jimmy gereeld reg bewys. Inus Oosthuizen en Johnny Karolus, vrugteboere van die Koue Bokkeveld, was op Landbouweekblad en Witzenberg-PALS se grondsimposium maar net twee van verskeie inspirerende stories oor gewone Suid-Afrikaners wat mekaar kon vind, vennootskappe aangegaan het en saam die ekonomie kon laat groei tot voordeel van almal.

Hierdie benadering is in teenstelling met die alewige herverdeling van bestaande welvaart waarvoor die aanhangers van swart ekonomiese bemagtiging so lief is. Die vreugde dat dít wat oënskynlik onmoontlik is, toe wel moontlik was, kan nogal aansteeklik wees.

Op die tweede dag van die simposium is ’n paar vrugteplase besoek, onder meer Eyethu Ntaba, die boerdery van Johnny en Lien Visagie se span wat in vennootskap met Inus se Donkerbos-boerdery sake doen. Met die aankoms van simposiumgangers en lede van die media op die plaas sê Inus hulle is eintlik taamlik ongemaklik met al die aandag. “Ons wil maar net boer.”

In die loop van die gesprek sê Inus Johnny is seker een van die beste boere wat hy ken. “Hy is net so goed, indien nie beter nie, as baie van die kommersiële plaasbestuurders in die vallei.” Inus noem ook hoe Johnny gereeld uit sy eie sak na die werkers omsien, seker omdat hy self voorheen ’n plaaswerker was.

Die volgende dag berig ’n TV-kanaal dat Inus gesê het Johnny is ’n beter boer as enige van sy kommersiële bure. Dit help nie veel dat Inus net drie bure het nie! “Dit was die slegste dag van my boerderyloopbaan,” bieg Inus. “Die Saterdagaand (van die uitsending) het ek min geslaap. Die Sondagoggend het ek gewonder of ek moes kerk toe gaan!”

Gelukkig het die TV-kanaal ingestem om ’n regstelling uit te saai en die meeste van die skade is ongedaan gemaak, maar Jimmy Mould sou sekerlik iets vir Inus en Johnny te sê gehad het. Saam met Gerrit van Vuuren, ’n prokureur van Ceres wat baie van die PALS-strukture uitgedink het, sou Jimmy graag ’n paar biere wou gaan drink.

Gerrit sou nooit kon dink dat hy ’n teiken van aktiviste sou raak oor iets wat so ooglopend in die beste belang van die distrik en Suid-Afrika is nie. Vir ’n paar afbrekende linkse elemente is die PALS-inisiatief, ironies genoeg, niks minder as ’n bedreiging nie. Dit keer die ou, geykte narratief van kommersiële boere wat werkers uitbuit en nie ’n maatskaplike bydrae tot die land wil lewer nie op sy kop.

PALS se suksesse staan in skrille kontras tot staatsgesubsidieerde mislukkings. Met die staat se geldkraantjies wat nou al hoe stywer toegedraai word, raak die linkse elemente paniekerig, want hulle raak ál meer irrelevant. Nou wil hulle terugbaklei, en hulle is bereid om vuil te speel.

Sulke gedrag sou Jimmy Mould nie verbaas het nie, en as oudjoernalis sou hy daarop aangedring het dat daaroor geskryf word. Ons is natuurlik van plan om presies dít te doen.