’n Mens word begroet met golwende, bedreigde strandfynbos, wat groen tot by die spierwit strand groei waar kabeljouhengelaars staan en lyne dophou. In die wasige verte, aan die ander kant van Valsbaai, rys Hangklip by Pringlebaai uit die see. Die rit is egter insiggewend ook, want net ’n entjie verder duik die eerste informele nedersettings tussen die fynbos op.

Dan, ná ’n paar kilometer, sien ’n mens skielik die yslik groot township Khayelitsha. Honderdduisende plakkershuise verdwyn tussen die bosse. Dit is blykbaar die snelgroeiendste township in Suid-Afrika en strek deesdae byna ononderbroke tussen Somserset-Wes en Kaapstad. Kort-kort word nuwe grond beset. Fynbos word oornag uitgekap en strukture opgerig.

Soos boere in Noordwes byvoorbeeld goed weet, is grondbesetters goed ingelig oor hul regte. Wanneer die strukture eers staan, is die howe traag om in te gryp. Toe ek daar verbygery het, was mense in BMW’s en dubbelkajuitbakkies besig om sinkplate en planke af te laai. Dit laat ’n mens wonder wie vir die besettings verantwoordelik is en wie regtig daarby baat vind. Die polisie staan magteloos en toekyk.

Buiten ’n aansienlike hoeveelheid vlugtelinge uit Afrika is Khayelitsha se inwoners meestal Oos-Kapenaars, meestal van die voormalige tuislande Transkei en Ciskei waar van die land se vrugbaarste landbougrond is.

Ongelukkig het die Oos-Kaap ook een van die vrotste provinsiale regerings in die land. Dit dwing baie mense om na die Wes-Kaap te verhuis, waar hulle nog ’n kans het om dienste te ontvang en dalk ’n huis en ’n los werkie êrens. Intussen word geld teruggestuur Oos-Kaap toe, “huis toe”, om veral huise te bou in die voormalige tuislande waar grond gratis bekombaar is. Só word baie van dié streek se beste landbougrond op ’n chaotiese wyse toegebou.

Boonop hoef jou eiendom nie ’n bydrae tot die staatskas te lewer nie, hoe beskeie ook al, hetsy jy in die voormalige Transkei of in Khayelitsha woon. Beperkende faktore, soos huisverbande en eiendomsbelasting, word eerder gehef op formele eiendomme, soos voorstedelike huise en landbougrond. Dit genereer geld vir die staat wat moet betaal vir die onversadigbare vraag na dienste op plekke soos Khayelitsha.

Namate die kloof tussen Suid-Afrika se formele en informele ekonomie verdiep, raak dit ál moeiliker om die soort produktiwiteit in ’n snelgroeiende bevolking te vestig wat die hoeveelheid inkomste kan genereer wat ’n moderne staat verlang. Hetsy dit die taxibedryf is wat geen belasting op sy inkomste van miljarde rande betaal nie of Soweto wat weier om sy kragrekening te vereffen — dit is alles ten koste van die land.

Die staat vererger boonop hierdie onverkwiklike situasie deur nog meer onproduktiwiteit teweeg te bring met wanadministrasie wat duisende staatsplase laat braak lê, en onsinnighede, soos onteiening sonder vergoeding. Net die koste wat die staat sal moet dra indien eiendom begin waarde verloor, behoort politici twee keer te laat dink.

Kapitaalwins-, eiendoms- en boedelbelasting is alles daarmee heen indien grond waarde verloor weens onteiening sonder vergoeding. En dis maar net die begin. Later sal daar geen kans wees om plekke soos Khayelitsha leefbaar vir sy inwoners te maak met geld wat grond elders genereer nie. Want elders sal daar ook net ’n informele nedersetting wees wat niks vir die staatskas inbring nie.