Die statige ou vis duik nog een laaste keer vir die diep, donker water van die kuil voor ons haar versigtig die vlak water kan inbring, die vishoek verwyder en haar sorgvuldig uit die water haal vir ’n foto.

Sy word teer onder die keel en by die stert vasgehou om enige druk op haar maag te vermy vir ingeval sy dalk eiers dra. Dan word sy terug in die water geplaas, ’n paar keer heen en weer getrek om suurstof in haar kiewe te kry, voor sy met een klap van haar stert blitsvinnig die diepte in verdwyn.

Dit is ongelooflik om te dink dat so ’n vis reeds sowat 50 jaar lank die aanslae van die rivier oorleef. Reiers, kormorante, slangnek- voëls, babers, otters en selfs haar eie soort sou nie huiwer om haar te verorber nie, maar ten spyte van vele aanslae het sy oorleef.

Vandag heers sy as die onbetwiste koningin van die rivier. Hier in die onverbiddelike woestynwêreld van die Richtersveld, minder as 200 km van waar Suid-Afrika se langste rivier uiteindelik haar water in die Atlantiese Oseaan stort. Om so ’n intieme interaksie met ’n uitsonderlike dier saam met jou twee seuns te kan ervaar, is ’n besonderse voorreg.

Die les is nie net oor die indrukwekkende majesteit van die natuur wat so ’n pragtige ou vis versinnebeeld nie, maar ook oor hoe die rivier, soos enige ander biologiese entiteit, altyd streef om die balans te bewerkstellig en te behou wat so ’n verbysterende verskeidenheid lewe kan onderhou.

Van die kleinste varswatergarnaal tot die reuse-goliatreier wat in die vlakwater jag — almal het hul plek en funksie om die stelsel te laat werk. Dít alles ondanks die groot eise wat ’n dankbare landbou aan die land se langste rivier stel.

Al die pad van waar sy in die berge van Lesotho in die ooste ontspring tot sy die koue Atlantiese Oseaan bereik, word haar water ingespan om ’n verbysterende verskeidenheid gewasse te verbou.

Die reusagtige Namibiese tafeldruifontwikkeling by Aussenkehr, glo die grootste landbou-ontwikkeling in sy soort in die Suidelike Halfrond, is die laaste groot eis wat die landbou aan die vergewensgesinde rivier stel, voor sy die klipeiland bereik waar ons sit en visvang, en verder in dankbaarheid tot by die see vloei. Die stabiliteit waarna die natuur streef, is ’n kenmerk van alle funksionerende stelsels.

Die manier hoe ál die biologiese betrokkenes deur hul onderlinge afhanklikheid in dieselfde rigting trek om daardie perfekte oggend op die rivier te skep. Die klein bontvisvanger wat vir kurpers wag. ’n Enkel otter wat ywerig jag.

Net so sien ’n mens hoe die vakuum van verwoesting wat die brande in die Wes-Vrystaat agtergelaat het, gevul word deur ’n stortvloed onbaatsugtige skenkings deur die private sektor in die afwesigheid van die staat. ’n Bewuswording van hoe afhanklik mense eintlik van mekaar is. Die besef dat ons eintlik nie sonder mekaar kan klaarkom nie.

Dít is die mooi in die onbeskryflike hartseer van die brande se verwoesting. Die lang rye vragmotoers wat op hoofweë staan, volgelaai met voer waaruit wapperende landsvlae spruit. Dít is die werklike land waarin ons woon. ’n Land wat tot dieselfde onbeskryflike mooi as ’n vroeë oggend op die Oranjerivier in staat is.