Suid-Afrikaners het gehoor van me. Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, se meesterplan vir watergebruik in Suid-Afrika. In die lig van al die planne wat die staat, wat nie eens die mees basiese regeringsfunksies kan vervul nie, al opgedis het, bevat dié plan eintlik ’n paar skaflike voorstelle.

’n Onafhanklike nasionale waterhulpbron-en-dienste-agentskap, met ’n duidelike mandaat vir die ontwikkeling en bedryf van waterinfrastruktuur, maak tog sin. Die land het meer damme nodig, en verouderde waterinfrastruktuur, soos kanale, moet dringend onderhou word — deur iemand anders as boere. Hulle is ál mense wat iets herstel, al betaal hulle reeds vir die diens. Vordering word wel gemaak.

Volgens mnr. Theo Boshoff van die landbousakekamer Agbiz is daar maandelikse vergaderings tussen die waterkomitee van Besigheidseenheid Suid-Afrika en die departement se lisensiedepartement nadat pres. Cyril Ramaphosa sy staatsdepartemente uitgetrap het oor hul onwilligheid om dit makliker te maak vir die private sektor om sake te doen. Skielik word probleme opgelos met lisensie-aansoeke wat al twee tot drie jaar sloer, sê Boshoff. Dit is baie bemoedigend.

Ongelukkig maak een swaeltjie nie ’n somer nie. Kyk nou maar na die kwessie van watermeters. Soos altyd begin dit by die staat wat versuim om sy werk te doen — in dié geval om opvanggebiedbestuursagentskappe op die been te bring. Suid-Afrika het 19 opvanggebiede en volgens wet moet daar vir elke gebied ’n bestuursagentskap wees om die water te bestuur. Daar is uiteindelik op nege besluit, maar nog net twee is gestig.

Dit blyk ook byna onmoontlik te wees om watergebruikersverenigings by die staat te registreer. Pleks daarvan om sy werk te doen, wil die staat nou die las van waterbestuur na boere toe afwentel. Hy wil boere wat nie aan watergebruikersverenigings behoort nie (wat die staat moet help stig), verplig om watermeters teen ongeveer R18 000 elk te installeer. Só kan die staat watergebruik monitor sonder om ’n vinger te lig. Die staat gee dus een tree vorentoe en twee treë terug.

Suid-Afrikaners is ook altyd goed genoeg om te betaal, hetsy vir water of hemelhoë belasting, maar hulle word nie goed genoeg geag om te help nie. Om een of ander duistere ideologiese rede verkies Sisulu skynbaar Kubaanse wateringenieurs om die waterkrisis, wat haar eie departement help skep het, op te los!

Op plekke soos Harrismith is gewone Suid-Afrikaners egter op hulself aangewese. Waterlekkasies en pompe word op eie koste en tyd herstel en vervang. By Petrus Steyn het mnr. Johan Claassen, ’n vooraanstande boer, R300 000 opgedok om water aan die Mamafubedu-gemeenskap te voorsien nadat die Nketoana-munisipaliteit in 2016 net opgehou het om dié diens te verskaf.

Enige redelike mens sou dink die staat sal alles in sy vermoë doen om die welwillendheid en kundigheid in die private sektor te vind en in te span. Want hoe anders gaan die land al die probleme oplos? Solank die staat eensydige besluite kan neem sonder gevolge, al kla die mense wat vir die gelag moet betaal hóé hard, sal enige vordering helaas met rukke en stote kom.