Mnr. Cyril Rampahosa is ook tydens dié naweek as Suid-Afrika se sesde president ingehuldig, daar op Loftus, waar ons Blou Bul-ondersteuners al baie lekker gekry het, maar deesdae maar swaar trek. ’n Mens hoop Ramaphosa is ’n Blou Bul en dat Loftus vir hom ’n bietjie geluk gaan bring, want die vet weet, ons het dit nodig.

In baie opsigte sal sy presidentskap die land se laaste kans wees om dinge reg te ruk. Daar is nie meer genoeg aanloopbaan oor vir verdere uitstel of verskonings nie. Ons probleme is onmiddellik en dringend. Die enigste oplossing is ekonomiese groei en baie daarvan. Minstens besef Ramaphosa ’n mens kan dit nie sonder die private sektor doen nie.

Maande lank al is dr. Johan van Zyl van Toyota en ander sakeleiers besig om agter die skerms ekonomiese planne te beraam wat almal in Suid-Afrika in dieselfde rigting kan laat trek. Dié planne bevat blykbaar baie elemente van die motorbedryf se gevierde benadering tot staatsondersteuning, wat die bedryf deur die jare betreklik gesond gehou het.

Almal weet ook dit gaan nie goed genoeg wees vir die staat om bloot uit die private sektor se pad te bly nie. Hy sal aktief moet help om daardie aanloopbaan vir die baie swaar vliegtuig wat ons in die lug wil kry, met ekonomiese groei ’n bietjie langer te maak.

Ja, baie skade is ongelukkig reeds berokken. Té veel mense sien nie meer kans vir die verskonings, die onbeholpenheid en die diefstal nie. Vandag is ’n ongekende 14% van alle huisverkope weens mense wat uit die land wil padgee — in 2016 was dié syfer 5,5%. Die meeste van dié wit én swart Suid-Afrikaners is van die land se heel beste mense. Ons het hulle eintlik dringend nodig — vir hul geld en vermoëns. Maar wie kan hulle ná 25 jaar se geploeter kwalik neem dat hulle ’n besluit geneem het?

Miskien moet ons eerder ophou om hulle ’n rede te gee om te wil padgee. Die land gaan dit egter helaas nie regkry deur groot administratiewe flaters te begaan, soos om nie die hoër koringtarief af te kondig nie. Veral nie nadat dit nie een keer nie, maar twee keer die afgelope drie maande geaktiveer is en Graan SA reeds ál die nodige dokumentasie verskaf het sodat die koringtarief gefinaliseer kan word.

Ná 'n lang gesloer krap almal nog kop oor hoekom mnr. Tito Mboweni, die voormalige minister van finansies, nog nie die jongste tarief in die Staatskoerant afgekondig het nie. Omdat Mboweni ’n medeboer is, verwag ’n mens dalk meer van hom. Met dié dat niemand nou weet wat die prys van koring behoort te wees nie, heers daar onnodige chaos en frustrasie.

Die mooi woord is prysonsekerheid. Invoerders wil byvoorbeeld koring inbring voordat ’n duurder tarief in werking tree, terwyl boere op die duurder tarief wag om hoër pryse vas te maak. ’n Sukkelende Blou Bul-span op Loftus sal ons oorleef, maar ’n president wat op Loftus ingehuldig is en ook sukkel, kan ons nie bekostig nie. En toe die dag van dié skrywe kom die aankondiging van ’n tarief uiteindelik.

Nee wat, pres. Ramaphosa, ons sal aansienlik beter moet doen as dit.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.