Vanjaar se droogte het net té vinnig op die hakke van 2015-’16 gekom. Soos Jannie de Villiers van Graan SA opmerk: “Ek was emosioneel net nie reg vir nóg ’n droogte nie.”

Die moeilike jare het balansstate laat bloei. Toe boere op die kongres gevra is wat hul grootste struikelblokke is wat volhoubaarheid betref, het ruim 70% nie gehuiwer om winsgewendheid reg boaan hul lys te plaas nie.

Dit is ’n bitter ironie dat die vooruitsigte vir grane en oliesade volgens die graanhandelaar Silostrat eintlik betreklik goed lyk vir die volgende paar jaar. Maar eers moet daar deur vanjaar se moeilike toestande gekom word. ’n Goeie oes volgende jaar sal help om balansstate weer te laat herstel, maar graanproduksie bly ’n genadelose hoërisikobedryf wat nie skroom om elke 15 jaar die helfte van sy boere uit te skud nie, soos Jaco Minnaar, boerevoorsitter van Graan SA, opmerk.

As ’n mens dan ook nog dr. Werner Rossouw van Silostrat se bekommernis in ag neem dat Suid-Afrika in net drie van die afgelope vyf jaar genoeg mielies vir plaaslike verbruik geproduseer het, besef jy dat droogtes hulself nie aldag laat bestuur nie. Daar is tye wanneer daar ’n vangnet moet wees vir boere wat ’n stapelvoedsel vir die land verbou.

Staatsondersteunde oesversekering is natuurlik die een ding wat ’n enorme verskil sal maak, en Graan SA het uiteindelik die minister van landbou sover gekry om in beginsel so ’n skema goed te keur. Dit is immers standaardpraktyk elders ter wêreld, met 85% van Amerikaanse boere wat deur ’n staatsgesteunde versekeringsplan gedek word, volgens De Villiers.

Staatswaarborge van R5 miljard tot R8 miljard sal die knoop deurhak — ’n betreklik klein bedrag wanneer daar reeds R400 miljard op die SAA en Eskom geblaas is. Om nie eens te praat van die onlangse skattings dat staatskaping die land R1,5 biljoen (Amerikaanse trillion) gekos het nie. Dit is R27 000 wat by elke liewe mens in Suid-Afrika gesteel is!

In teenstelling met sulke onvergeeflike vermorsing en misdadigheid wat ten koste van ’n hele land en sy mense gepleeg is, staan die opbouende rol en bydrae tot die nasionale belang van landbou-organisasies, soos Graan SA, soos ’n paal bo water. Net in die afgelope jaar is daar buiten die werk met oesversekering ook op verskeie ander plekke ingegryp om die volhoubaarheid van ons verbouers van stapelvoedsel te verbeter.

Die 10%-invoertarief op kanolasaad is onder meer afgeskaf, asook die 20%-invoertarief op sekere trekkerbande. Bydraes is oor die nuwe dieselrabat gelewer, en ’n telingsheffing is gereed gekry vir sojabone, koring, gars en hawer.

Verder was daar die aanpassing van koringgraderings, die oopmaak van nuwe graanmarkte, soos Iran, die bekendmaking van in- en uitvoerinligting vir mielies, terwyl ’n liggingsdifferensiaal vir sojabone gesystap is. Daar is ook ’n onafhanklike ondersoek na die JSE-liggingsdifferensiaal van stapel gestuur. Navorsingkonsortiums is op die been gebring, en swart boere is op verskeie vlakke ondersteun.

Hoeveel ongemakliker sou hierdie produksiejaar nie vir ons boere gewees het sonder die enorme bate van dié landboumanne met die baadjies en dasse nie?

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.