Ek wou eerder geskryf het oor die fantastiese nuus dat pryse op die eerste wolveiling van die nuwe seisoen in Port Elizabeth met 19% op ’n jaargrondslag opgeskiet het en oor die R184 per kilogram wat RC Burger vir sy 18,1 mikron-vag gekry het.

Ek wou ook vir ons uiters oningeligte politici se onthalwe noem dat tienduisende swart wolboere voordeel trek uit dié wonderlike opswaai. Dit is meestal te danke aan ons kommersiële produsente, bedryfsorganisasies en landboubesighede wat oor die jare hul bure in die voormalige tuislande onbaatsugtig bygestaan het.

’n Bemoedigende storie van hoe dinge wél werk, maar ook hoe dit eintlik nog soveel beter kon werk as ons net die erge diefstal, roofdiere en grondeienaarskap kon regruk en wolskape weer op al die plekke kon laat loop waar voorheen met hulle geboer is. En dit is lekker om te sien hoe die optimisme ook deurtrek veilings toe, met ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord van R255 000 wat onlangs op die nasionale Merinoramveiling op Graaff-Reinet vir een van Theo en Jaco Potgieter se Groep 3-ramme deur Jan en Jaco Wiese van Loxton betaal is.

Dan wou ek sommer iets sê oor die Springbokke voor daardie begeesterde Baaise skare. Maar ongelukkig was dit my nie beskore nie, want hoe neem ’n mens nie kennis van die ongelooflike slagting wat tans weer op ons plase opgevlam het nie?

Nasionale krisis

Teen die tyd van dié skrywe was daar tot dusver in Augustus ’n skokkende 28 aanvalle en sewe moorde. In die vorige week alleen was daar agt aanvalle in slegs vier dae. As dit nie ’n nasionale krisis is nie, wat is? ’n Mens wil nie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie en ek is seker baie aanvalle gaan wel oor “geld en gewere”.

Wanneer die name egter so begin ophoop en die aanvallers vat niks nie, dink ek onwillekeurig aan wat ’n Drakensberger-beesboer die anderdag aan my gesê het: “Boetie, hulle vat ons uit, een vir een. Een hier, een daar.”

Die skaal van die gewelddadige golf wat tans oor die platteland breek, is eenvoudig nie eens volgens Suid-Afrika se ongelooflik gewelddadige standaarde normaal nie. Dís hoe abnormaal jy al oor dié goed begin dink. Met ’n waarnemende polisiekommissaris en ’n hoof van polisie-intelligensie wat onlangs weer in die pad gesteek is, lyk dit ook nie of die polisiebestuur ernstig is oor wat van hulle verwag word nie, ondanks ’n paar uitnemende individue veel laer af in die range wat wragtig steeds hul bes doen.

Paraatheid

Op korte duur is die enigste oplossing om uiters voorbereid te wees. Sedert Mei plaas ons gereeld artikels oor plaasveiligheid. En elke week dink ek hoe abnormaal dit is dat ’n landboutydskrif raad moet gee oor hoe om te maak as iemand ’n pistool teen jou kop hou. Maar dit is eenvoudig waar ons is.

Daar is stelsels wat werk. BP Greyling, boer van Mpumalanga, se landelike veiligheidstelsel is een van die omvattendstes in die land en funksioneer binne amptelike landelike veiligheidstrukture. Hy is nie die enigste een nie.

Jy hoor toenemend van terugvegpogings. Vriende in Noordwes wat aan veiligheidsgroepe behoort, vertel hulle weet van sewe plaasaanvalle wat onlangs afgeweer is. Boere se pogings om hul gemeenskappe te organiseer en holisities te beveilig, begin nou vrugte afwerp. Dít is in baie opsigte eintlik veel beter nuus as die wolprys. Dit is hoe abnormaal die landbou in Suid-Afrika geword het.

Chris Burgess is redakteur van Landbouweekblad. Hierdie is sy redakteursbrief in LBW van 1 September.