Oor die skynbaar geïmpliseerde ongeregtigheid van ’n sjampoe-advertensie sal mense ’n groot bohaai maak, maar oor die miljarde rande wat oor ’n dekade van belastingbetalers gesteel is — reusediefstal wat almal erg verarm en ’n hele geslag van beter ’n toekoms beroof het — sal hulle vir alle praktiese doeleindes swyg.

Op Senekal het dit weer gebeur. ’n Onskuldige jong man het sy lewe verloor. Sy hande stukkend baklei teen sy aanvallers. In geen beskaafde samelewing is dit aanvaarbaar nie. Dít is die sentrale werklikheid van die storie.

Nou wil dit voorkom of die beskuldigdes wat vir sy moord aangekeer is, eintlik welbekend aan die gemeenskap is. Hulle is glo deel van ’n veediefstalsindikaat wat Senekal en sy buurdorpe nou al jare lank teister. Wit én swart kommersiële boere loop deur, asook kleinboere op meentgrond. Misdaad, soos ons almal weet, ontsien niemand nie.

Hoe weet ons dit? Herkie Viljoen, veiligheidsvoorsitter van die Bethlehem-distrikslandbouvereniging, bestuur ’n 24-uur-beheerkamer vir die streek, en met die samewerking van plaaslike boere is ’n gedetaileerde dossier saamgestel oor die veediefstalsindikaat se bedrywighede.

Dit is aan die Valke oorhandig — maande gelede al — kompleet met bewyse van die plaaslike polisie se betrokkenheid by die misdrywe. Maar net mooi niks het gebeur nie. Daar is opgevolg, maar steeds het niks gebeur nie. Toe word Brendin vermoor. En nou wonder baie hoekom mense kwaad is. Regtig?

Vanoggend is pres. Cyril Ramaphosa weer besig met bysake in sy weeklikse nuusbrief. Hy skryf hoe jammer hy is oor Brendin, maar probeer dan onmiddellik alles kwalifiseer. Nie ’n woord word oor sy eie aandadigheid aan die misdaad gerep nie.

Ja, meneer die president, u eie aandadigheid. As staatshoof is dit tog redelik om te verwag dat u verantwoordelikheid sal aanvaar vir die beweerde misdadigheid van die polisie in die Oos-Vrystaat? The buck stops with you. Of was pres. Harry Truman verkeerd? Waaroor ons wel kan saamstem, is dat dit nooit by u verwaande minister van polisie gaan eindig nie.

Dié totale afwesigheid van wet en orde is miskien nie iets waaraan u en u ministers gewoond is nie. Belastingbetalers betaal immers baie geld om julle teen dié ongemaklikheid te beskerm. Blykbaar meer as wat die land aan grondhervorming bestee.

Vir gewone mense wat ’n bestaan op die platteland probeer maak — van kommersiële tot kommunale boere, sakelui en ambagsmanne — is die toenemende wetteloosheid net nog ’n uitvloeisel van ’n regering wat nie ’n bloue duit oor sy mense omgee nie. En julle blyk heel gemaklik daarmee te wees.

Op Normandien staan die polisie se onvermoë om rondlopervee te skut en grondbetreders te straf sentraal tot meeste wrywing in die omgewing. Hierdie dinge is regtig nie moeilik om vas te vat nie. Maar pleks van om verwantwoordelikheid vir die onaanvaarbare situasie te aanvaar, raak die minister van polisie kwaad vir die boere.

Dan staan en kibbel hy nog agterna oor Landbouweekblad se beriggewing. Hoe hy blykbaar nooit gesê het boere moenie kla as hulle seerkry nie. Nee, minister, dit is presies wat u gesê het. Drie boere, almal Zoeloe magtig, het dit duidelik gehoor en onafhanklik van mekaar aan ons bevestig!

Hou u tog net uit die bysake, en begin ernstige aandag aan die hoofsaak gee. Anders gaan daar nog uitbarstings soos op Senekal wees. Dít kan ek u belowe. En dit gaan op u gewete rus. Niemand wil dit hê nie.