Van munisipaliteite en ander staatsdepartemente tot gewone mense wat nog nooit vir dienste betaal het nie, skuld miljarde rande aan Eskom. Sy twee nuwe kragsentrales, wat die land reeds honderde miljarde gekos het en boonop die ANC verryk, is gebrekkig, agter skedule, en die begroting is al oorskry. Dit is om van te huil.

Eskom se tariefverhoging van 57% oor die volgende drie jaar kan nie net die laaste van die land se mynbou uitwis nie, maar ál meer bedrywe dwing om elders krag te kry. Só sal Eskom se afsterwe net verhaas word. Pleks van wêreldklasbestuurders wat die nodige moeilike besluite kon neem, was daar tot onlangs nog ’n klomp sotlike trogvreters wat die plek ten gronde bestuur het, terwyl hulle van die vetste salarisse in die land getrek het.

Met Phakamani Hadebe, voorheen van die Land Bank, wat genadiglik nou aan die stuur is, sink die erns van die saak minstens in. Eskom sal ontbondel moet word, en hy sal private geld en wêreldklasbestuur moet betrek. Daar is geen ander keuse nie. Die vakbonde se mening is nie eintlik ter sprake nie.

“Laat ons nie ’n goeie krisis vermors nie,” het Rahm Emanuel, oudpres. Barack Obama van Amerika se personeelhoof, in 2008 gesê in die nadraai van Wall Street se ineenstorting. Die senior staatsamptenaar en akademikus Alex Himelfarb van die York-universiteit in Toronto, Kanada, het weer gesê ’n krisis kan mense uit hul oorgerustheid ruk en só die ruimte vir leiers skep om konvensies uit te daag en werklike verandering teweeg te bring.

Dalk is die uitbreking van bek-en-klouseer so ’n oomblik. Met die speenkalfprys in sy peetjie en die voortslepende droogte is dit miskien nie nou die beste tyd om boere te vra om ’n groter heffing te betaal nie. Of is dit dalk juis die regte tyd?

As die bedryf meer geld gehad het, kon hy verseker het dat bek-en-klouseer onder beheer bly, en was dit nie nodig om vir die staat te wag nie. Suid-Afrika se uitvoermarkte sou oop en die speenkalfprys stewig gebly het. Dit is natuurlik buiten die feit dat ander plaaslike bedrywe, soos die varkbedryf, hulself finansier teen ’n heffing van R50 per dier, teenoor die beesbedryf se R10 per dier. Ons boere se eweknieë in Australië en Nieu-Seeland betaal R150 per dier.

Met ’n nuwe geslag leiers in die rooivleisbedryf voel dit egter asof dinge aan die verander is. Elders in die landbou word ook hard gesoek na volhoubare oplossings. Die sojabedryf se statutêre heffing kan byvoorbeeld ’n reuseverskil maak aan ’n noodsaaklike bedryf, met saadmaatskappye wat skielik ’n rede het om in nuwe tegnologie te belê wat hoër opbrengste beloof.

Ander krisisse word ook ál dringender. Hoe volhoubaar is droë- landmielieverbouing in byvoorbeeld die weste van Suid-Afrika se somersaaigebiede? Waarmee moet dit vervang word, en hoe? Watter rol speel die kommunale gebiede in die ooste van die land in die verbouing van mielies? Watter impak het die droogte in die weste op plattelandse mense? Wat doen ons om talent hier te behou, waar dit so broodnodig is? Hoe beskerm ons familieboerderye? Watter rol kan groter boere en insetverskaffers speel om die platteland funksioneel te hou? Ons durf nie dié krisisse vermors nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.