Met sy onberispelike kontakte in politieke binnekringe kon Mohammad nie net politici se uitspattige impulse in toom hou nie, maar hy het ook boere deurgaans op die hoogte gehou van die ware toedrag van sake wanneer emosies gedreig het om handuit te ruk. Sy kalm insig was van onskatbare waarde.

Wat Mohammad uniek gemaak het, was hoe hy, amper sonder uitsondering, groot byval gevind het by boere — van boereverenigings tot die verskeie rade waarin hy gedien het. Daarvoor het sy intelligensie, praktiese boerdery-ervaring en humorsin gesorg.

Hy was ’n belangrike brugbouer in die landbou in ’n kritieke tyd toe die ou landboubedeling stadigaan probeer plek maak het vir nuwe werklikhede. Vir Mohammad was die vertrekpunt altyd om die groter prentjie vir die landbou in oënskou te neem, asook die bedryf se ekonomiese lewensvatbaarheid.

Sy intellektuele plooibaarheid het dikwels vir belangrike deurbrake gesorg, soos wanneer hy boere oortuig het om ’n saak vanuit ’n nuwe perspektief te beskou. Só is die bedryf telkens deur erge stormwaters gestuur. Gevolglik was Mohammad nie net ’n visionêre landbouleier nie, maar ook baie gelief.

As medeskrywer van die Nasionale Ontwikkelingsplan se hoofstuk oor die landbou, bly sy vennootskapmodel vir grondhervorming een van die meer hoopvolle en praktiese visies vir ’n inklusiewer bedryf.

Mohammad wou egter meer as net die breë landboubedryf uitbou. Hy wou ook ’n nuwe, veerkragtiger platteland daarstel. Hierdie visie is gebore uit sy diep liefde vir die landbou en sy mense, en sal my altyd bybly. Vir Mohammad was boere die fondament waarop ’n nuwe samelewing gebou sou word.

Die sement wat dit alles bymekaar sou hou, sou die eerlike en ongekunstelde waardes wees wat die platteland by mense kweek. Dit is waardes wat ’n vastrapplek kry met die beskeie eenvoud van iets soos kinders wat die voorreg het om modder tussen hul tone te voel, soos Mohammad altyd liries daarna verwys het.

Die heengaan van dié wonderlike man is ’n uiters gevoelige verlies vir die landboufamilie, want ons het juis nou in die hedendaagse, ongemaklike tye sy kalm wysheid so bitter nodig. Rus sag, ou grote.

Maar agter elke donker wolk skyn tog die son. Toe my swaer onlangs erg siek geraak het weens Covid-19, het ’n kollega onbaatsugtig van sy eie medikasie afgestaan vir iemand wat hy nog nooit ontmoet het nie en dit inderhaas op ’n Sondagmiddag laat aflewer. Daar is ook die talle oproepe van bekommerde veeartse en dokters wat deurgaans mediese advies gee. Net soos met droogtes en veldbrande bring ’n krisis die beste in goeie mense na vore.

Dat ’n volskaalse krisis by die Land Bank heers, is nie altemit nie. Ontstellende gerugte doen die ronde dat boere onder kwaai druk geplaas word deur die Land Bank om lenings dadelik terug te betaal. Sommige boere in die Noord-Kaap het blykbaar reeds prokureursbriewe ontvang, terwyl ander deur agente van veilingsmaatskappye besoek is met die oog op veilings.

’n Mens verstaan die beleërde bank moet sy benarde geldelike situasie probeer beredder, maar sekerlik nie ten koste van ons boere nie? Indien prof. Mohammad Karaan nog met ons was, sou hy die eerste gewees het om juis dit te beaam.