EFF- en ANC-lede in die parlementêre komitee wat opdrag gekry het om te kyk na die moontlike bewoording van die klousule wat onteiening sonder vergoeding kwansuis eksplisiet in die Grondwet sal maak, het sommer op ’n dag begin onderhandel oor die moontlikheid dat die staat die voog van alle grond in land moet word! Dus, om die grond te nasionaliseer, soos wat die staat destyds in effek met minerale regte gedoen het.

Toe Agri SA die saak oor minerale regte tot in die Grondwethof beveg het, het hoofregter Mogoeng Mogoeng beslis dit is aanvaarbaar. Die staat besit mos nie die mineraalregte nie, hoe kan dit dan as onteiening beskou word? Die staat is net die voog van die regte, wat hy dan toewys.

Nie ál die regters op die regbank van die Grondwethof het met die hoofregter se beslissing saamgestem nie. Nou hoop almal dat Mogoeng, self ’n beesboer, nie vir die skurke ’n voet in die deur gegee het nie, want nou word daar sommer gedink dit kan met enige ander eiendom gedoen word.

In teenstelling met al die onsmaaklikheid wat altyd tot nadeel van Suid-Afrika se gewone mense is, staan oom Perry, seker Parys se laaste Boerejood en ’n man vir wie Suid-Afrika se mense oneindig belangrik was. Hy was ’n ware mensch — waardig, verantwoordelik, geseën met ’n besliste sin van reg en verkeerd, regverdig en sonder ’n greintjie arrogansie. ’n Saint, soos Johann Rupert hom beskryf.

Ná sy aftrede was Perry die stille dryfveer agter die merkwaardige Khaya Lam-projek van Leon Louw se Vryemarkstigting. Jare lank het Perry hom daarvoor beywer dat gewone Hophuis-bewoners titelaktes vir hul eiendom kry. Só kon gewone, hardwerkende Suid-Afrikaners met gesinne skielik ’n bate van ’n hele paar honderdduisend rand ryker word die oomblik dat hulle hul titelakte ontvang.

Dit is die maklikste en goedkoopste manier om welvaart te skep, want dooie kapitaal het net waarde as iemand dit besit. In teenstelling met die groothartige Perry weier die staat egter om dit te doen.

Sy werk was vir Perry ’n hartsaak. Hy het besef mense is nie net geldelik beter af wanneer hulle eiendom besit nie, maar ook dat hul menswaardigheid herstel word. Jare lank het Perry met die fyn oog van ’n goeie boer geleenthede gesoek, die papierwerk gedoen, geld gevind en die oorhandigingsgeleenthede gereël sonder dat ’n mens eens geweet het hy was betrokke.

Voor die Covid-19-pandemie het ek die voorreg gehad om Perry en sy vrou, Veronica, op hul plaas aan die oewer van die Vaalrivier te besoek. Ons het op die stoep gekuier en Perry was opgewonde oor die buitengewone potensiaal wat hy in die voormalige tuislande gesien het om welvaart te skep met die uitreiking van titelaktes.

Ek het belowe om die uitsonderlike egpaar weer te besoek, en intussen vir Perry ’n lang lys met boerekontakte in my tuisprovinsie gestuur. Maar ongelukkig kon ek dié merkwaardige mens en landspatriot nooit weer sien nie.

Mooi loop, Perry. Jy het ons boere se naam hoog gehou. Jy was wat Suid-Afrika verdien het, anders as die parlement wat ons het. Jy het jou deel gedoen. Hamba kahle, ou grote.