Van oplossings vind was daar nie veel sprake nie. Ten spyte van ernstige tekortkominge het boere egter steeds moeite gedoen om by die sittings op te daag. Hulle het geduldig op ’n spreekbeurt gewag om sinvolle en berekende bydraes te lewer, al was daar verskeie pogings om hul beurte te ontwrig.

Ons hoor egter dat boere se boodskap van nasionale eenheid en die belangrikheid daarvan dat Suid-Afrikaners hul probleme sáám moet aanpak en oplos, op Kokstad die hele gesindheid van die sitting na iets meer gunstigs geswaai het. Dit is uiters bemoedigend. Dít is hoe dit in Suid-Afrika is.

Gewone belastingbetalers moet die leiding neem, planne beraam en oplossings vind, want ons vrotsige politici is te besig om ’n klomp gevaarlike beloftes oor grond te maak so skuins voor volgende jaar se verkiesing. Dit is ook ál waaroor hulle kan praat, want op byna alle ander terreine is hul geloofwaardigheid deur korrupsie en verstommende onbeholpenheid aan flarde geruk.

Nie eens die feit dat Kuba, die ANC se groot bondgenoot in die struggle, afsien van die sosialistiese waas waarin die land sedert Fidel Castro se oorname in die laat 1950’s geleef het, bring ons moedige sosialistiese stryders van stryk nie. Kuba is nou druk besig om private eiendomsreg om ekonomiese redes te bewerkstellig.

Mark Twain sou trots gewees het op hoe ons plaaslike kripvreters sy uitdrukking gestand doen dat die waarheid nie in die pad moet staan van ’n goeie (politieke) storie nie! Die gesiene prokureur Peter Leon het egter onlangs ’n waar- skuwing gerig: Al die populistiese geprewel oor onteiening sonder vergoeding gaan nie so maklik wees soos ons lui politici dit wil uitmaak nie.

Indien eiendom wel wild en wakker onteien gaan word (wat nie gaan gebeur nie), sal Suid-Afrika homself moet voorberei op enorme eise deur internasionale beleggers wat die beskerming van bilaterale ooreenkomste geniet. Dié ooreenkomste is immers in goeder trou onderteken.

Dit was juis die geval met Zimbabwe, sê Leon. Howe in Amerika het byvoorbeeld op Zimbabwiese bates begin beslag lê om hul burgers te vergoed vir hul verliese in daardie land. Die ironie wat Leon uitwys, is dat onteiening uiteindelik veel duurder kan wees as om eenvoudig uit die staanspoor markwaarde vir grond te betaal.

Verder hoor ons ook gerugte van boere wat verbande op hul eiendomme by oorsese banke laat registreer. Om plaaslike boere senuweeagtig te maak oor die verlies van hul eiendom, is een ding, maar om aan die Bank of America te moet verduidelik hoekom jy sy geld wil vat, is ’n perd van ’n ander kleur.

Maar, nou ja, ons weet almal die regte probleem is en was nog nooit grond nie, maar eerder ’n parasitiese en dikwels misdadige Regering wat nie veel erg daaraan het om regtig die land te bestuur nie.

Daarvoor is hy te bederf deur produktiewe boere en ander getroue belastingbetalers wat ondanks alles steeds bereid is om ’n bydrae as burgers te lewer in die hoop om Suid-Afrika ’n beter plek vir almal te maak.