Mnr. Koos Bekker, voorsitter van Naspers, merk in ons uitgawe van 28 Mei 2020 op dat net ’n mamparra dapper genoeg sal wees om ’n voorspelling te waag. Hier is dus eerder ’n paar vrae.

Hoe lank gaan die inperking nog duur? Ál meer medici stem saam dat die mediese voordeel bereik is en dat daar min is wat die verspreiding van die virus kan stuit.

Intussen waarsku prof. Schabir Madhi van die Universiteit van die Witwatersrand dat dit lyk of die doeltreffende behandeling van ander ernstige mediese toestande, soos tuberkulose, MIV/vigs en kanker, nou agterweë raak en dat al hoe meer kinders weens wanvoeding in hospitale opgeneem word.

Dit bring jou by die ekonomiese verwoesting. Prof. Johan Willemse reken die ekonomie sal met tot 12% krimp. Daar is reeds sprake van tot 4 miljoen werksverliese. Die impak kan drasties wees.

Wat doen ’n mens as miljoene mense eensklaps nie hul rekeninge kan betaal nie? Huisverbande, motorpaaiemente, versekering, eiendomsbelasting, noem maar op! Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) kan vanjaar tot R285 miljard minder invorder, waarsku mnr. Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID.

Dit is ’n aardige klomp geld wat net weg gaan wees. Die staat sal egter steeds maatskaplike toelaes moet betaal. Wie gaan dus nie meer geld kry nie? Hoe bestee die land die bietjie wat hy wel het, so doeltreffend moontlik?

Neem die huidige bystand aan swart boere as ’n voorbeeld. Die 146 boere wat deel is van die regering se proaktiewe grondverkrygingsplan (Plas) kry elkeen byna R3 miljoen. Dit is nou buiten die kere dat hulle reeds vantevore geherkapitaliseer is. Die oorblywende R500 miljoen gaan aan 15 000 klein- en kommunale boere, al dra hulle net 1,9% tot die nasionale voedselmandjie by. Kommersiële boere kry niks nie.

Die ondersteuning is goed en wel, maar is dit waarde vir belastingbetalers se geld? Hoe gaan die pandemie verbruikerspatrone verander? Willemse reken ekonomiese welvaart kan met 10% daal. Dit sal ’n bepaalde verskuiwing na goedkoper voedselsoorte, soos brood en mieliemeel, teweegbring.

Watter bydrae gaan ’n groter klem op gesonder kos wat nader aan verbruikers verbou word, lewer? Wat van die meer fundamentele vrae oor die fondamente waarop die wêreldekonomie gebou is – veral wanneer net ’n paar weke van verminderde ekonomiese bedrywighede die kaartehuis inmekaar laat tuimel?

Is dit nie dalk tyd om ongebreidelde verbruik as die dryfveer van die wêreldekonomie te heroorweeg nie? Is die koste vir die planeet en sy mense dalk net té hoog en riskant wanneer almal soos Amerikaners wil lewe? Is dit nie volhoubaarder om met minder klaar te kom nie?

Het die wêreld dalk hierdie onderbreking nodig gehad om die krisis van klimaatsverandering meer in perspektief te stel? Hoe bepaal jy die sukses van besighede? Is finansiële verslagdoening op ’n maandelikse, kwartaallikse en jaarlikse grondslag nog relevant wanneer ’n virus nie ’n skedule volg nie?

Boere weet jy kan nie altyd die volle ekologiese koste van ’n besigheid binne ’n boekjaar verreken nie. Sal die waarde van die Covid-19-krisis ons bereid maak om aan ons konvensionele wyshede en vooropgestelde idees te skaaf? Dit kan ons toekoms bepaal.