Die herfsreën kan kwalik mooier wees in die meeste van die somerreëngebiede. Op plekke sommer baie, en gereeld. In my wêreld in die Noordoos-Kaap loop die ou plaasdam op pad grootpad toe vir die eerste keer in byna tien jaar oor. Oral word die grondwater aangevul, en die aanry van water na die vee is iets van die verlede.

Die wêreld lyk mooi, die beeste is vet en die prys hou darem nog (soort van). Wanneer ’n vriend kus se kant toe nie sy armmanslusern gebaal kan kry vanweë al die reën nie, tref dit my dat ek jare laas gehoor het dat ’n boer oor die nattigheid kla wanneer hy moet baal! Die alternatief is soveel erger, en die droogte lê nog vlak in die geheue.

Die reën laat ’n mens weer ’n bietjie hoop skep, maar daar is mense wat waarsku dat ons nie té gerus moet raak nie. Soos dr. Peter van Niekerk, voormalige hoof van waterhulpbronbeplanning by die Departement van Water en Sanitasie. Ja, die Vaaldam loop dalk tans oor, maar dit is eintlik ’n hengse probleem, sê hy.

Die damme hoër op, soos dié in die Lesotho-Hooglandskema, is onrusbarend leeg. Dié damme voed die hele Vaalrivierstelsel saam met die vol Sterkfonteindam (wat sy water uit KwaZulu-Natal kry). Dit is die water wat Suid-Afrika se ekonomiese hartland, Gauteng, aan die gang moet hou. Die landbou in ons besproeiingsgebiede is ook daarop aangewese.

Die Katsedam is 66% vol en die Mohaledam net 36%. Terloops, daar is nog plek vir 1 000 miljoen kubieke meter water in die Hooglandskema — byna drie Loskopdamme. Die rede vir die leë damme? Volgens ’n waterverbruiksooreenkoms van 1986 tussen Suid-Afrika en Lesotho kan Lesotho water uit die damme laat vloei om hidro-elektriese krag op te wek.

Daardie ooreenkoms moes al met die tweede fase van die Hooglandskema hersien word, want almal het geweet die Vaalrivier gaan teen 2019 bykomende water nodig hê.

Ongelukkig het Nomvula Mokonyane, Suid-Afrika se voormalige Minister van Water en Sanitasie, hierdie noodsaaklike projek as ’n gulde geleentheid vir tenderverryking gesien, en vandag is die voltooing van die Hooglandskema tot 2025 uitgestel, met ’n meegaande styging in die koste waarvoor die vuisvoos belastingbetaler sal moet opdok.

En nou is die staat se geld op en die belastingbetaler kan kwalik verder gemelk word. Wat nou? Magda Wierzycka van die batebestuursfirma Sygnia stel voor daar word gekyk na infrastruktuureffekte wat verdienste waarborg deur op goed bestuurde projekte klem te lê. Nou is juis die tyd vir sulke alternatiewe beleggingsopsies, meen sy.

Met Donald Trump en China wat mekaar die stryd aansê, is groter ekonomiese onbestendigheid ons voorland. Die verdienste uit tradisionele aandelemarkte daal reeds en sal verder kwyn namate die goedkoop geld wat die Amerikaners en Europeërs in hul ekonomie ingepomp het, ál minder word.

Plaaslik bemoeilik Naspers se oorheersing van die JSE enige diversifikasiestrategie, terwyl die Steinhoff- en Resilient-debakel mense se vertroue in aandelebeleggings lelik geknou het. Maar dit bring ons weer terug na die staat, wat dié beleggingstrukture sal moet skep.

Mense soos Mokonyane moet liefs so ver weg as moontlik van die proses gehou word, terwyl haar plaasvervanger, Gugile Nkwinti, ook nie veel vertroue inboesem nie. Intussen kom die dag wanneer die herfsreën weer gaan wegbly al hoe nader.

* Chris Burgess is redakteur van Landbouweekblad.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.