Tussen die Springbokke, die weer en die onlangse kwaai brande is daar wel ’n bietjie goeie nuus. In die Parlement se wandelgange hoor ons dat die Regering uiteindelik sy grondoudit gaan bekend maak.

Met syfers kan ons ’n sinvolle gesprek begin voer, sodat ons ook kan begin praat oor ander dringende sake, soos veranderende weerpatrone, Suid-Afrika se waterkrisis en nuwe uitvoergeleenthede om broodnodige buitelandse valuta te verdien. Dit behoort mos glad nie so ingewikkeld te wees nie.

Ons weet hoe groot Suid-Afrika is en ons weet ook waar die hoëpotensiaalgrond lê — ’n mens hoef net te kyk waar die meeste reën val. Daar’s ook die aktekantoor waar alle grondtransaksies registreer word. Tussen dié drie behoort ’n mens darem ’n heel skaflike aanduiding te kry van wat aangaan. En voor ons vergeet, daar ís al grondoudits gedoen.

LEES OOK: Boere, dis tyd om grond te gryp!

Vorige pogings
Die Departement van Grondsake se destydse poging onder leiding van prof. Shadrack Gutto was ongelukkig só deurspek met denkfoute dat dit nooit regtig vastrapplek in die openbare debat gekry het nie. Dis jammer, want as ons destyds al ’n sinvolle gesprek begin het, was ons nou al baie verder op die pad.

Dan was daar die deeglike provinsiale poging van Vrystaat Landbou. Die bevindinge was nie juis bemoedigend nie — net 3% van die provinsie se landbougrond was in 2013 in swart hande. Ja, die provinsie het die minste grondeise, maar daar is wragtig ook makliker plekke om geld te maak as byvoorbeeld die Wes-Vrystaat. Dáár is baie kapitaal net die begin van jou probleme. Dan het jy ook ’n slim diversifikasiestrategie weg van net mielies af nodig. As jy ’n bestaansboerdery of kleinskaalse boerdery wil vestig, is daar plekke waar dit eenvoudig meer reën, soos aan die ooskus waar ’n groot deel van Suid-Afrika se swart bevolking reeds woon.

Die ironie is dat mense in die voormalige tuislande nog presies soos onder apartheid lewe — sonder eiendomsreg of enige noemenswaardige staatsbestuur wat boerdery vergemaklik. Soos ons kommunale wolboere. Hulle steier daagliks onder onophoudelike veediefstal en troppe rondloperhonde.

Ja, daar is ook dele van die tuislande waar reën skrapser is en die veld soeter en lelik vertrap is. Maar in die ooste, soos Pondoland, is die reënval hoog en alles van mielies tot melk is opsies. Dis natuurlik buiten die meer as 40% van Suid-Afrika se nasionale vleisbeeskudde wat reeds onder kommunale bestuur is.

ADS se grondoudit
Verbeel jou ons begin keursnitte van dié beeste na die Midde- of Verre- Ooste uitvoer. Dit kan ’n maatskaplike omwenteling veroorsaak. Ons sien dus regtig uit daarna om die staat se syfers te sien. Want van ons kant af sit Johann Bornman van ADS nou al langer as ’n jaar en werk deur die byna halfmiljoen grondtransakies wat van 1994 tot 2016 by die aktekantoor geregistreer is.
Met finansiële bystand van Agri SA en steun van Landbouweekblad het ons onder meer bevind dat landbougrond in die besit van wit boere van byna 70% in 1993 tot 55% verlede jaar geval het. Daarteenoor is byna 30% van die totale landbougrond nou in swart besit.

En as jy kyk na die eintlike potensiaal van die grond onder bespreking, sit swart eienaars met byna 47% van die waarde van alle landbougrond. Baie daarvan is presies in daardie hoëreënvalgebiede in die ooste. Oor die volgende paar weke sal ons ons bevindinge publiseer, want ons stem saam: Die tyd vir ’n sinvolle grondgesprek het nou aangebreek.

LEES OOK: Chris Burgess: Politici gee nié duit om