Op die dag van die optog het daar toe genadiglik ook ’n paar opportuniste in ou kommando-uniforms opgedaag, en almal kon ’n sug van verligting slaak. Die ou, geykte stereotipe van regse, kakiedraende, gewapende boere is genadiglik vervul en kon die wêreld ingestuur word, soos die New York Times ook gedoen het.

Niemand stel regtig belang in waaroor die plaaslike gemeenskap eintlik kwaad is nie. Oor veediefstal wat buite beheer is en die polisie wat glo betrokke is. Dat dit almal erg raak en dat swart boere ook deel van die optog was, is besonderhede wat mense blykbaar bemoeiend vind. So ook dat dit boere was wat Senekal se strate ná die optog skoongemaak het.

Intussen, in die regte wêreld, waar die staat afwesig is en gewone mense op hulself aangewese is om ’n bestaan te probeer maak, het die meeste Suid-Afrikaners lankal van ras af aanbeweeg. Soos Bill Clinton se verkiesingsveldtog teen oudpres. George Bush gedurende die resessie van 1992 dit onomwonde gestel het: “It’s the economy, stupid!”

Niks bring mense vinniger bymekaar as gemeenskaplike ekonomiese belange nie. Die besef dat ons almal net ’n bestaan probeer maak.

Hierdie praktiese werklikheid het weer duidelik na vore gekom toe Landbouweekblad aan ’n nuwe TV-program en tydskrif vir swart boere begin werk het (’n kopie van die tydskrif is by dié uitgawe ingesluit). Al die swart voorslagboere met wie ons gepraat het, het vertel hoe kommersiële bure hulle onbaatsugtig bygestaan het.

By Senekal boer die rateltaai Mthimkhulus — oubaas Koos en sy seun Clifford — wat sukses behaal in ’n moeilike oorgangsgebied. Jare lank reeds doen die gerespekteerde Koos kontrakwerk vir die boere van die omgewing. Vandag is veral oom Dawie van die Merwe ’n vriend, mentor en sakevennoot.

By Boshof boer Palesa Moahloli met Bonsmaras. Sy is een van die Sernick-groep se voorste kommersiële beesboere. ’n Ouma wat nou haar boerderyritme werklik vind ná jare se kleinskaalse pogings op ’n Bloemfonteinse kleinhoewe. Toe sy haar plafon met die beeste bereik het, het sy met varke begin boer. In die proses het die plaaslike veaarts dr. Edgar Payne ’n mentor en familievriend geraak.

Daar is Cocky Mokoka, ’n bewarings-saaiboer van Vereeniging. Toe die Covid-19-inperking sy planne gekortwiek het om townships van vleis te voorsien, het sy vriend en buurman Ferdinand Klopper sý plaas se slag- en verwerkingsgeriewe aan Cocky beskikbaar gestel.

Naby Vryburg bedryf Duncan Serapelwane ’n Bonsmarastoetery. Toe hy veiling wou hou, het hy sy vriend Wessel van Wyk van die Bogermie-boerdery om hulp gevra.

Toe Duncan vir Arthur de Villiers van Arcadia-Bonsmaras op ’n telersvergadering raakloop, was die gevolg dat Arthur vir hom en sy vriend Christopher Melamu een van sy topbulle vir vier dektye geleen het! Vanjaar is Christopher se kudde as Vleissentraal en SA Stamboek se Stoetkudde van die Jaar aangewys.

Toe Arthur uiteindelik die bul op sy eie veiling verkoop, het die dier ’n uitsonderlike prys behaal juis omdat hy so goed op die twee vriende se ongenaakbare Kalahariplase gewerk het! Geen wonder Duncan verafsku dit as mense die rassekaart speel nie.

Gewone Suid-Afrikaners kom dus lankal meer as net oor die weg. Ons leef elke dag saam. Dit is net politici en die media wat weier om dit raak te sien. ’n Mens wonder hoekom.