AFGRI se Bethal-tak het onlangs sy jaarlikse boeredag op mnr. Dewalt te Water se plaas net buite die dorp aangebied en my gevra om ’n paneelbespreking met ’n paar bedrysfleiers en boere te lei.

In die skuur op die werf waar die gesprek gevoer word, met geil mielielande op die agtergrond, word daar lekker gepraat oor dinge wat vir boere saakmaak, soos die nuwe neigings wat landboumasjinerie betref, hoe werktuie danksy elektrifisering meer outonoom van trekkers sal kan werk, en hoe kunsmatige intelligensie spuite nou slim genoeg maak om tussen onkruide te onderskei.

Boere vertel van planttye wat al hoe korter word en hoe hulle gedwing word om tot 20% meer werktuie as gewoonlik te gebruik om alles betyds te kan plant. Vanjaar se probleem met swamme, veral in die ooste, word bespreek, asook die ernstige tekort aan spuitvliegtuie omdat boere nie met hul hoogloopspuite in nat lande kan kom nie. Versuipskade, asook alles wat nog in Februarie kan skeefloop om die oes te benadeel, bekommer almal.

Boere bly ook maar skugter vir Safex. Wie maak die geld tydens die 20 keer per jaar wanneer Suid-Afrika se mielieoes verhandel word? wil hulle weet. Verder het die speenkalfprys weer begin styg, ondanks die verbod op veilings, en ons praat oor die stabiliserende uitwerking wat vee op ’n saaiboerdery kan hê. En só verloop die gesprek op ’n heel interessante en aangename trant sonder dat onteiening sonder vergoeding ooit ter sprake kom.

’n Mens kry die gevoel dat die boere nie meer daaroor wil praat nie, veral omdat dit nou duidelik word dat dit niks met grondhervorming te doen het nie. Indien wel, sou die staat tog werk gemaak het van die duisende staatsplase wat braak lê. Hy sou die kommersiële landbou, waarby van die beste boere ter wêreld betrokke is, gevra het om te help.

(Toe mnr. Dan Kriek, voormalige voorsitter van Agri SA, en mnr. Nick Serfontein van Sernick as lede van die presidensiële advieskomitee oor grondhervorming wel voorstelle gemaak het oor die kommersiële landbou se betrokkenheid by grondhervorming, is dit grootliks van die tafel gevee. Dít ondanks pres. Cyril Ramaphosa se herhaaldelike versekering dat die private sektor ’n kernrol sal speel om die land weer op koers te kry.)

Ongelukkig strook Ramaphosa se oggend- en aandpraatjies nie mooi nie. Pleks daarvan om groter sekerheid aan die land te gee, word die teenoorgestelde gedoen toe die voorstel gemaak word dat die besluit oor nul vergoeding by onteiening van die howe na die uitvoerende gesag verskuif moet word. Eensklaps verdiep die skade aan die ekonomie. Soos baie duidelik uit Zimbabwe blyk, is geordende, voorspelbare grondhervorming veel goedkoper as ’n ekonomie wat in duie stort.

Later die dag op die boeredag gesels ek met ’n gerekende boer van die omgewing — ’n nugter en aangename man. Ek vra hom of hy dink onteiening sonder vergoeding sal ooit plaasvind. Hy bly vir ’n oomblik stil. “Ek dink nie so nie. Maar as hulle my plaas kom vat, brand ek dit af. By my sal hulle niks verniet kry nie.”

En dít, moet die staat en die president begin besef, is die werklike skade wat aangerig word — die skade aan die gesindheid van mense wat die land sou kon help