Die feit dat hy met sy agtergrond as ingenieur besluit het om die woestyn se rotslae met ’n skeurploeg oop te breek om olywe te plant, gee net soveel meer betekenis aan sy stelling!

Dit laat my dink aan ’n Swartlandse pêl wat altyd ’n frase uit The Lion King gebruik om sy vriende aan te por om harder oor ’n boerderyprobleem te dink. “Look harder,” leen hy die bobbejaan Rafiki se woorde aan Simba, die jong leeu, wat tevergeefs vir sy pa se refleksie in ’n poel water soek.

Soms is dit glad nie so moeilik om te sien waarna jy kyk nie —soos met die onsinnigheid rondom onteiening sonder vergoeding. Almal weet dit het absoluut niks te doen met die versnelling van grondhervorming nie. En almal weet die eintlike probleem met grondhervorming is grootskaalse korrupsie en onbeholpenheid.

Maar in ’n verbysterende verdraaiing van die werklikheid gebruik die staat sy eie mislukking as ’n verskoning om ’n gevaarlike politieke speletjie te speel om ’n klein groepie politici te bevoordeel ten koste van die land. Soos Moeletsi Mbeki dit stel: Hulle is soos ’n klomp kinders wat met ’n handgranaat speel.

Intussen volhard die media en verskeie kommentators steeds met die mite dat onteiening sonder vergoeding op die een of ander manier ’n meer billike samelewing tot stand kan bring! Ander probleme is moeiliker om raak te sien.

Nou die dag word ek deur ’n boer aangepraat omdat Landbouweekblad herlewingslandbou ondersteun, iets wat ons beskou as net nog ’n opsie wat boere kan help om op hul plase te bly. Dit is ’n opsie soos ’n belegging in presisieboerdery, doeltreffender werktuie, of die produksie van hoëwaarde-nisprodukte wat kan help om die somme te laat klop.

Herlewingslandbou is egter geen wonderkuur of kitsoplossing nie. Inteendeel, die waardering van die volle kompleksiteit van die natuur se oorspronklike bloudruk waarop herlewingslandbou gegrond is en hoe boere daardie funksies kan inspan om vir hulle geld te maak of te bespaar, verg ’n nuwe buigsaamheid van denke wat verder strek as die blote toepassing van gerieflike formules.

Die boer het my vertel van die ouens in sy distrik wat met minimum bewerking begin het, maar binne ’n paar jaar ernstige verdigtingslae beleef het. Dit het weer opbrengste erg geraak. “Hoekom het hulle nie gerip nie,” vra ek? “Maar julle sê dan boere moenie rip nie,” gooi die oom wal. “Oom, ons sou dit mos nooit sê nie. Net verlede jaar het ons ’n artikel geplaas oor oom Anthony Muirhead, een van die pioniers van minimum bewerking in KwaZulu- Natal, waarin hy by boere pleit om te bewerk wanneer hulle moet.”

Om ’n eenvoudige formule op die natuur se oënskynlike teenstrydighede te wil toepas, kan gevaarlik wees, maar dit beteken nie die natuur wil nie vir jou werk nie. Die Universiteit van Suid-Dakota in Amerika het onlangs bevind 20 herlewingslandbouplase was 78% winsgewender as hul konvensionele eweknieë, ondanks opbrengste wat met tot 28% gedaal het.

Dié bevinding gee nuwe betekenis aan boere se skertsende opmerking dat die opbrengsmonitors in hul stropers met winsmonitors vervang moet word! Dit is egter helaas net in die politiek waar eenvoudige mense hulself die luukse van eenvoud kan toelaat.