Dit was ’n groot sukses en uit die wanhoop, swaarkry en armlastigheid van destyds se bêkvelders het die kommersiële landboubedryf van wêreldgehalte mettertyd verrys waarmee Suid-Afrika vandag geseënd is.

Ons probeer nou weer om ’n beskeie bydrae te lewer wat die vestiging van ’n nuwe geslag boere betref. Deur middel van ons African Farming-tydskrif (wat saam met dié uitgawe van Landbouweekblad verskyn), ’n TV-program met dieselfde naam, ’n webwerf en verskeie sosialemediaplatforms, vertel ons die suksesverhale van ’n nuwe geslag produsente en help ons soek na antwoorde vir hul probleme.

Onder redakteurskap van Peter Mashala, ’n gesoute landboujoernalis en plaasseun van Jericho in Noordwes, ontvou ’n wêreld van hardwerkende Suid-Afrikaners met ’n diep liefde vir die landbou en goeie boerevriende oor kleurgrense heen. Dit is stories van hoop.

Van die manne is groot. Die voormalige dokter en jong boer Obakeng Mfikwe beïndruk met ’n Simbra- en Simmentalerstoetery naby Lichtenburg, waar hy ook ‘n saaiboerdery op meer as 1 000 het.

Job Mthombeni, ’n voormalige plaaswerker van Mpumalanga, kon deur harde werk en slim besluite genoeg geld met sy boumaatskappy maak om sy eie plaas te koop. Dit is ’n verhaal van amper bomenslike deursettingsvermoë wat enige boer se hart warmer sal laat klop. Vandag is Job een van die pioniers met die verbouing van appels in daardie provinsie.

Net buite Nigel woeker Lerato Senakhomo met gesaaides en Ngunibeeste. Sy vertel van die goeie nismark wat sy vir haarself in die Moslem-gemeenskap gevind het. Hulle betaal goeie geld vir haar osse tydens die Eid-feesvieringe.

Die voormalige meganiese ingenieur Gopolang Tladinyane boer intensief met beeste op aangeplante weiding naby Sanddrift in Noordwes. Dié voormalige projekbestuurder by BMW se aanleg in Pretoria het sy gemaklike kantoorwerk verruil vir die plaaslewe saam met sy drie seuns. Hy boer vir hulle, sê hy, want dit is immers eers in die tweede of derde geslag wat hy geld uit die boerdery gaan maak.

Hierdie stories beaam wat ek al jare lank vermoed. Ons maak meer vordering in die land as wat ons dink. Ja, daar is verlammende verhale van mislukkings en korrupsie, maar daar is ook honderde swart boere wat stil-stil sukses behaal.

Die meeste koop hul eie grond. Almal, en ek wil sê byna sonder uitsondering, het dieselfde siening van die landbou as hul wit landgenote. Boere moet hul eie grond besit. Die staat moet na boere luister en ophou maak en breek soos hulle wil.

As ware boere het almal ’n diep waardering vir die kommersiële sektor. Elkeen het ’n storie van ’n wit buurman wat iewers deurslaggewend in hul sukses was, hetsy met raad, om bulle te leen of oeste te plan, of infrastruktuur wat kosteloos aan hulle beskikbaar gestel is. ’n Boer kan ’n medeboer raaksien.

Ek glo in dié Suid-Afrika. Gematigde, hardwerkende Suid-Afrikaners wat deur hul eie vermoëns iets vir hul families bereik. Dié Suid-Afrikaners sal nie duld dat ander vir hulle voorskryf hoe hulle hul lewens moet lei nie. Dít is ons hoop vir die toekoms.