Die hede bepaal die toekoms. Maar sou dit darem nie lekker gewees om net ’n slag ’n bietjie makliker te kan boer nie?

Neem Suid-Afrika se vrugte-uitvoer. Die land is ver agter ál sy mededingers wanneer dit by toegang tot uitvoermarkte kom. Almal, selfs Chili, het voordelige uitvoerprotokolle. Net Suid-Afrika nie. Hoekom, ná 26 jaar, moet sulke buitensporige invoertariewe steeds op die land se produkte betaal word?

Maar die land se boere maak steeds geld. Die verswakkende rand moet egter nie hul mededingende voordeel raak nie. Daar moet eerder na strukturele swakhede, soos hawevermoëns, gekyk word. Daar is darem vordering. Suid-Afrika kan nou sitrus na die Filippyne uitvoer ná ’n goeie spanpoging tussen die staat en die bedryf.

Elders knor dit egter lelik. Soos by grane. Ondanks die huidige mielieprys is Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, se waarskuwing oor die gevare aan die kostekant van die graanssom duidelik. In 1989 kon die wins uit ’n mielie-opbrengs van 1,8 t/ha sowat 86% van die volgende produksiejaar se insette koop. Teen 2018 was die wins uit 4 t/ha skaars genoeg om 9% van die volgende jaar se insette te betaal.

Ja, die rand is in sy peetjie, maar, soos Derek uitwys, boere het vandag ook nie meer die mededingende voordeel van staatsvermoëns nie. Sasol het destyds goedkoop kunsmis vervaardig, en Foskor fosfaat.

Genadiglik het die land bedryfsorganisasies van wêreldgehalte. Soos met koring werp Graan SA nou alles in die stryd om mielieboerdery se winsgewendheid te beskerm. Alles van oesversekering tot die uitbou van uitvoermarkte vir rooivleis en die beskerming van die plaaslike pluimveebedryf word in ag geneem.

Aan die kostekant beloof bewaringslandbou ook ’n goedkoper manier om te boer. Dat die natuur ’n paar koöperasierekeninge betaal. En dat kleiner familieplase weer lewensvatbaar bedryf kan word.

Plase soos dié waarop Jan Masiu boer. Hy is ’n voormalige plaaswerker en nou trotse boer en lid van Senekal se boerevereniging. Hy en sy twee seuns boer op net minder as 700 ha. Dit is belangrik dat boere soos Jan oorleef. Herlewingslandbou hou die belofte in dat hy en sy seuns ’n goeie bestaan op hul beskeie plaas sal kan maak. Genoeg om dit aan die volgende geslag te kan oordra.

Maar wat help dit alles as Suid-Afrika in ’n mislukte staat ontaard? Dit is nie so vergesog nie, waarsku prof. Johan Willemse.

Die onlangse inhegtenisneming van hooggeplaaste korruptes stem ’n mens darem moedig. Asook die artikel oor hoe om plaasbrande in die Suid-Kaap te bestuur. Boere word aangeraai om te verseker dat hul plase toeganklik vir brandweerwaens bly! Dit tref jou: Daar ís nog plekke in die land wat goed bestuur word. In die verre Noordoos-Kaap waar ek vandaan kom, is brandweerwaens op plase iets wat jy net in kinderboeke sien.

Dit bring my by die wrede moord op die bloedjong Brendin Horner, ’n plaasbestuurder by Gilly Scheepers se voorslag Oos-Vrystaatse boerdery. Die jong man het blykbaar skaapdiewe gekonfronteer toe hy vermoor en aan ’n ysterpaal vasgemaak is. Jou hart lê aan skerwe. Weereens.

Want voor dit nie einde kry nie, gaan niks anders veel saak maak nie. Vra maar vir Gilly en Brendin se familie en vriende — die stryd om te keer dat dié tragedie die toekoms bepaal.