Amerikaners mag maar. Wanneer hulle iets aanpak, doen hulle dit deeglik, al gaan hulle soms ’n bietjie oorboord. Vat maar hul plaasbakkies. Op die parkeerterrein van die Farm Progress Show — Amerika se Nampo-Oesdag — staan Dodge Ram, GMC en Ford se robuuste bakkies in indrukwekkende rye.

Vir die Suid-Afrikaanse boere wat onlangs saam met Monsanto deur Amerika getoer het, was dit moeilik om te aanvaar dat dié mooi rygoed nooit Suid-Afrika se grondpaaie sal mak maak nie. Toe Suid-Afrika vandeesweek amptelik uit die resessie gekom het, maar weliswaar met sakevertroue wat laas tydens oudpres. P.W. Botha se Rubicon-toespraak so laag was, was my kop steeds op sy Amerikaanse spoortjie.

Ek dink toe aan iets wat die Amerikaanse oorlogkorrespondent Sebastian Junger op ’n kol geskryf het oor die vervreemding van Amerikaanse vegsoldate (ook hyself) nadat hulle van Irak en Afganistan se slagvelde teruggekeer het huis toe. Hy het geskryf hoe moeilik dit was om die trauma te verwerk van die verlies aan die kameraadskap van manne wat die dood saam met jou meegemaak het.

LEES OOK: Chris Burgess: Hoekom die bloedbad?

Jóú mense

Dit is die ouens wat jou eintlike stam, of tribe, soos Junger dit noem, geword het. Junger reken dit was juis die idee om tot ’n tribe te behoort wat daartoe gelei het dat ’n opvallende hoeveelheid van die eerste Europese setlaars in Noord-Amerika hulle by die Indiane aangesluit het, maar dat geen Indiaan dit ooit nodig geag het om by setlaarsgemeenskappe skuiling te soek nie.

Die rede, voer Junger aan, was dat die Indiane in baie opsigte ’n meer funksionele samelewing bedryf het. Daar was altyd ’n groter mate van aanvaarding, mits jy jou kant gebring en ’n werklike bydrae tot die gemeenskap gelewer het.

Die landbou het onlangs presies dít gedoen toe dié bedryf, met ’n groei van 33,6% in vanjaar se tweede kwartaal, ’n merkwaardige bydrae gelewer het om Suid-Afrika se ekonomie uit ’n resessie te lig. Dié prestasie is natuurlik grotendeels danksy blote genade, maar toe die reën uiteindelik uitgesak het, was dit ons boere wat die beste van die vog gemaak het.

Hulle het onder meer ’n rekordoes van duskant 16 miljoen ton mielies na die silo’s gebring. Maar steeds word ons bedryf se aansienlike ekonomiese bydrae geringgeskat. Pleks van groot waardering vir die landbou se hulp om SA Bpk. weer op koers te kry, moet landbouers steeds onsinnige uitsprake oor grond trotseer, amptelike ongeërgdheid oor plaasaanvalle aanskou of die uiterste frustrasie beleef van ’n koringtarief wat eenvoudig nie aangekondig word nie.

LEES OOK: Boere, dis tyd om grond te gryp!

Ten spyte van...

Dít terwyl baie boere erg noustrop trek ná ’n paar uiters moeilike jare en weens die droogte wat plek-plek steeds meedoënloos voortsleep. Interessant genoeg, die Indiane het verskillende leiers gekies vir oorlog- en vredestye. Hulle het besef elke situasie verg verskillende vaardighede. By ons word dit egter nie toegelaat nie.

’n Mens sou dink dat ons nou, in tye van ’n ekonomiese slagting, ons heel beste ekonomiese breinkrag sou inspan om uitkoms te soek. Pleks daarvan moet ons vir lief neem met die oppervlakkige uitsprake van politieke kapokhaantjies en onbeskaamde kripvreters.

Maar, nou ja, net soos dit nog ’n tydjie gaan duur voor ’n monsteragtige Ford stof op Suid-Afrikaanse plaaspaaie skop, gaan dit nog ’n wyle duur voor ons almal die verstommende waarde besef van die mense en bedrywe wat so ’n onmisbare bydrae tot Suid- Afrika lewer. Dít is ’n les wat die Indiane al honderde jare gelede geleer en verstaan het.