Dít in ag genome sou ’n mens verwag het dat die landbou meer aandag sou kry in die regering se ekonomiese herstelplan, en dat mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, die herfinansiering van die Land Bank ’n groter voorrangsaak in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk sou maak. Veral omdat pres. Cyril Ramaphosa en Mboweni tog albei by die landbou betrokke is.

Mboweni hoef net deur sy plaashuis se venster in Magoebaskloof na die vrugteboorde te kyk om te besef waar die ekonomie se heil lê, terwyl Ramaphosa dit reeds weet — daardie aardige bedraggie wat hy onlangs op Sernick se veiling vir ’n Bonsmarabul betaal het, getuig daarvan.

Maar pleks daarvan om die Land Bank te help, kry die SAA weer ’n onverdiende meevallertjie van ’n hele paar miljard rand, ondanks die feit dat van die beste lugrederye ter wêreld hulself tans teen die toue bevind.

Hy probeer net die 3 000 werkgeleenthede by die SAA red, het minister Pravin Gordhan onlangs in die parlement gepaai, en die lugdiens se “belangrike bydrae as ekonomiese vermenigvuldiger” besing. Regtig? En die landbou se aansienlik meer as ’n halfmiljoen werkgeleenthede en sy potensiaal om nog honderde duisende meer werkgeleenthede te skep, asook sy veel groter vermenigvuldigingsimpak, is te versmaai?

Die kil gevolg van die Land Bank se likiditeitsprobleme is dat kontant nou in die landboufinanieringsketting begin opdroog. Skielik raak dit ’n groot gesukkel vir kleiner en middelslagboere om produksiekrediet te kry. Waar banke wel help, staar rentekoerse noord van prima plus 2% boere in die gesig.

En dan is daar nog ’n donkerder kant. Boere wat deur omstandighede buite hul beheer tot op die randjie van finansiële ondergang gedryf is deur droogte en ander terugslae, soos bek-en-klouseer, se lenings word nou toenemend opgeroep. Al hoe meer stories bereik Landbouweekblad van likwideerders wat help om plase aan vriende en kennisse vir ’n appel en ’n ei op te veil. Terwyl dit tans net hoorsê is, bly dit onheilspellend.

Aan die insetkant raak alles ook net duurder. Probleme met die staatsbeheerde Foskor se voorsiening van goedkoop fosfaat help nie, terwyl boere nou al jare lank nie meer die voordeel van Sasol se billike kunsmis het nie. Dít is die dinge wat mnr. Derek Mathews van Graan SA snags laat rondrol. Die feit dat dit tot 40% duurder is om mielies in Suid-Afrika te verbou as in Amerika, en 56% duurder om sojabone plaaslik te verbou as in Argentinië en Brasilië.

Met dié agterstand help onsmaaklike politiek binne die landbou nie veel nie. Die moeilikheid by die Wintergraantrust wat belangrike koringnavorsing nou in die gedrang bring, is eenvoudig verraderlik.

Dan verkwis die regering nog die bietjie geld wat daar wel is, met die naïewe verwagting dat hy die produktiewe ekonomie wat nog staande is, maar altyd verder kan wurg vir meer. Wat help dit mense kla Suid-Afrikaners het nie ’n spaarkultuur wat hul ekonomiese welvaart kan stut nie, wanneer die regering nie skroom om byvoorbeeld inkomste op geld wat reeds belas is, weer te belas nie!

Nee, wragtag, ons sal baie vinnig en baie helder moet begin dink oor waarmee ons besig is in die land.