Die nood is weer tuisgebring ná Landbouweekblad se onlangse droogteberaad op Bitterfontein in Namakwaland, asook Andrea Campher, nuwe rampbestuurder van Agri SA, se droogtetoer. Sy het die verwoesting wat die Klein-Karoo die afgelope vyf jaar beleef het, eerstehands ervaar. Ook die Noord-Kaap, wat al sedert 2011 erg deurloop.

Gelukkig is daar hier en daar ’n bietjie verligting. Net vanoggend vertel ’n kollega wat van Noordwes af Kaap toe gery het, van dele by Strydenburg, Britstown en Victoria-Wes wat lyk of dit darem redelik reën gekry het. ’n Mens bly hoop boere se uitkoms is op pad.

In die somersaaigebiede praat hulle al van ’n oes van 15 miljoen ton, ondanks laat aanplantings in die Oos-Vrystaat en versuip- en swamskade in Mpumalanga. ’n Pel in die Oos-Vrystaat sê die afgelope naweek het daar weer mooi reën geval net soos die mielies begin saad maak het. Waarvoor meer kan ’n mens vra?

’n Mooi oes is goeie nuus vir almal, ook vir die boere wat nog met die droogte sukkel. Ja, ’n mooi surplus sal die mielieprys onder druk plaas. Maar, soos baie boere sal sê, dit is die grootte van jou oes en nie die mielieprys nie wat jou op jou plaas gaan hou. Dit klink darem ook of daar vanjaar ’n groter vraag na Suid-Afrika se mielies uit Afrika gaan wees weens ’n sprinkaanplaag wat Oos-Afrika se oeste verwoes het en waarskynlik kleiner as verwagte oeste in Zimbabwe en Zambië.

Buitendien, soos prof. Johan Willemse altyd sê, meer en goedkoper mielies is goed vir die land se veeboere. Voerkrale en ander intensiewe veebedrywe kry ’n welkome blaaskans én hulle kan meer vir boere se speenkalwers betaal. Dit bly ’n mooi storie.

Terwyl saaiboere hulle verlustig in die vooruitsig van ’n goeie oes, gaan ander in die ekonomie ook vanjaar lekker skep, byvoorbeeld Chris Crause, die ontwikkelingsbestuurder en eggenoot van een van die direkteure van die maatskappy Isago @ N12 Development. Vroeër vanjaar het dié gelukkige entrepreneurs twee lappies grond aan die buitewyke van Klerksdorp vir net meer as ’n halfmiljard rand verkoop. Dit is min of meer R570 525 per hektaar in ’n gebied waar landbougrond nie meer as R20 000 per hektaar haal nie.

Die koper is niemand anders nie as die Openbare Beleggingskorporasie, wat die grond namens die staatspensioenfonds aangeskaf het. Dié grond is net verlede jaar nog deur die Matlosana-munisipaliteit vir slegs R25 340 000 gewaardeer! Natuurlik het Crause allerhande stories oor hoekom die staat se pensioenarisse eintlik ’n winskopie kry.

Indien ek egter ’n afgetrede onderwyser, polisieman of verpleegster was, sou ek erg bekommerd gewees het — veral omdat daar ook sprake is dat hul pensioene gebruik gaan word om Eskom se berg skuld te delg. Anders as die oeste op die lande gaan net ’n handjie vol mense egter by dié geld baat vind — ten koste van ’n hele land. En dít, soos alle regdenkende mense sal besef, is net mooi die teenoorgestelde van wat ’n mooi mielie-oes vir Suid-Afrika sal beteken.