Om die plase gewelddadig af te vat, was toe bloot die duur opsie. Dit is byna 20 jaar later en dié land se ekonomie is steeds aan flarde. Met sy beste mense elders in die wêreld is die kans op herstel net soveel taaier. Nou is daar sprake dat Zimbabwiese boere minstens vir die verbeterings op hul onteiende plase betaal sal word.

Dit is welkome nuus en sal baie van ’n armsalige aftrede red, maar ongelukkig is die werklike skade reeds aangerig. Eerstens is daar die enorme en heel moontlik permanente verlies aan beleggersvertroue, en tweedens is die monetêre waarde van daardie onteiende plase oornag en vir ewig van Zimbabwe se boeke gewis.

Tot Kuba, daardie laaste kommunistiese vesting wat politici in Afrika tog so bewonder, probeer weer private eiendomsreg vestig om sy ekonomie ’n hupstoot te gee. Hier in Suid-Afrika is die ironie dat geld en grond (buiten korrupsie) nie grondhervorming se ware struikelblokke is nie.

Volgens Nick Serfontein, vooraanstaande boer en lid van pres. Cyril Ramaphosa se grondadviespaneel, is die beraamde R250 miljard wat oor tien jaar op grondhervorming bestee moet word om dit sinvol af te handel, “eintlik maar ’n druppel aan die emmer”. Eskom benodig veel meer om die ligte aan te hou. Nick sê ook daar is genoeg grond dat nie één produktiewe plaas afgeneem hoef te word nie. Maar steeds vertroetel die politici die lui opsie.

Dit was ook die soeke na ’n vinnige kortpad wat mnr. Derek Hanekom, voormalige minister van landbou, laat besluit het om die landboubeheerrade byna oornag af te skaf. Hy het erken hy weet min van die landbou, maar hy was vas oortuig dat wit kommersiële boere onregmatig voordeel trek uit die beheerrade. Hy het gemeen hy sal die speelveld vir opkomende, swart boere meer gelyk maak as hy die beheerrade ontbind.

Vir die kommersiële landbou was dié proses nie sonder pyn nie. Boeregetalle het gedaal en die platteland het lelik seergekry. Die moeilike tye was egter die smeltkroes waarin ’n mededingende landboubedryf staangemaak is. Vandag is die land se kommersiële boere wêreldfiks. Van die 36 landbouprodukte wat hulle produseer, voer hulle 24 uit. Hulle besef tegnologie en doeltreffende bestuurspraktyke gaan hulle op hul plase hou, nie subsidies nie.

Die grootste verloorders op Hanekom se kortpad was juis die swart boere wat hy wou help. Hulle is nie net ontneem van ’n bestendige en voorspelbare bemarkingskanaal nie, maar die staat, wat beloof het om hulle te ondersteun, het liederlik misluk. Die swart boere wat wel suksesvol was, het dit reggekry met goeie bestuur, ’n bietjie geluk en omdat hulle, soos hul wit landgenote, risiko’s geloop het.

Dit is natuurlik die probleem met kortpaaie. Die mense wat veronderstel is om baat te vind, trek gewoonlik aan die kortste ent — hetsy Zimbabwe, swart boere of swart studente van wie minder verwag word as hul wit medestudente. Die wit laaities besef hulle moet net nóg harder werk. En só kan jy maar deur Suid-Afrika werk. In Zimbabwe word die rekening vir daardie kortpad nog elke dag betaal. In Suid-Afrika voel dit soms of ons reeds die deposito betaal het.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.