Mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê die dam het slegs weke gelede minder as 10% water ingehad. “Dié dam, een van die grootstes in die provinsie, is vol. Die sluise moes die afgelope naweek oopgemaak word. Wat ’n ongelooflike ommekeer!”

Die Olifantsrivierstreek, wat van besproeiingswater uit dié dam afhanklik is, is volgens die wynbedryfsliggaam Vinpro die streek wat in die afgelope somer die grootste daling in sy wyndruifoes aangeteken het omdat dit die hardste deur watertekorte getref is. Die streek het weens die impak van die droogte slegs 20% van sy normale toedeling van water ontvang.

Droogte nie iets van die verlede nie

Luidens ’n verklaring sê Bredell die droogte in die provinsie is nog nie gebreek nie. “Goeie reënval het gehelp om grondwatervlakke aan te vul, maar ons moet die stelsel toelaat om soveel moontlik te herstel voor die somer. Sommige gebiede is steeds baie droog, veral die Karoo. Die reën het daar nog nie genoegsame verligting gebring nie.”

Bredell moedig die publiek aan om water spaarsamig te gebruik en om toe te sien dat die veranderinge wat reeds ten opsigte van watergebruik gesien is, die status quo word. “Hierdie droogte sal nie die laaste droogte wees wat ons sien nie. Veranderinge in gedragspatrone op lang termyn, die beter bestuur van bronne en groeiende veerkragtigheid om te herstel van hierdie tipe skokke gaan in die toekoms noodsaaklik wees.”

Damvlakke in die provinsie het ’n gemiddelde vlak van 47,2% bereik. In die ooreenstemmende tyd verlede jaar was die damvlakke op 24%. Die damme wat die Stad Kaapstad van water voorsien, is tans 53% vol teenoor 25% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Die Wes-Kaap se groot damme se lesings is tans:

Die Theewaterskloofdam is 38,5% vol. Verlede week was dit 34% vol en verlede jaar was dit 19,6% vol.

Die Voëlvleidam is 52% vol. Verlede week was dit 44% vol en verlede jaar was dit 20% vol.

Die Bergrivierdam is 83% vol. Verlede week was dit 78% vol en verlede jaar was dit 36% vol.

Die Clanwilliamdam is 98,2% vol. Verlede week was dit 67,4% vol en verlede jaar was dit 11% vol.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.