Die maatskappy het in ’n bedryfs-en-handelsverklaring op die JSE se Sens-nuusdiens gesê hy verwag dat sy wesensverdienste per aandeel in die huidige boekjaar meer as 180,5 sent beter as die vorige boekjaar se wesensverlies van 23,1 sent per aandeel kan wees.

Die resultate vir die huidige boekjaar sal na verwagting rondom 10 September bekend gemaak word.

Die maatskappy sê algemene handelstoestande in die sektore vir kleinhandel en vinnig-bewegende verbruikersgoedere het sedert Januarie vanjaar versleg.

“Die wisselvalligheid van die rand, stygende oliepryse en gedempte ekonomiese bedrywighede in die opbou tot die verkiesing op 8 Mei het tot swakker handelstoestande vergeleke met die vorige jaar gelei.

“Clover het nieteenstaande voortgegaan om sy markaandeel in verskeie kategorieë te vergroot, danksy beleggings in bemarking en bykomende handelsteun.”

Die maatskappy verwag dat dit sy toekomstige prestasie kan bevoordeel.

Hy sê verder nuwe smere en margariens wat hy in Maart vanjaar bekend gestel het, is goed ontvang.

’n Brand by sy Estcourt-poeierfabriek in dieselfde maand, wat ernstige skade veroorsaak het, het egter ’n groot invloed gehad op die beskikbaarheid van room. Clover kon ook nie afgeroomde melkpoeier vervaardig nie.

Dit het weer ’n invloed op die produksie van ander produkte gehad.

Clover sê hy is wel omvattend verseker vir die brand se gevolge rakende sy bates en die onderbreking van sy sake.

Die maatskappy sê verder sy inkomste verkry deur die lewering van dienste het onder groot druk gekom omdat Dairy Farmers of South Africa (DFSA) se volume baie gedaal het.

’n Verspreidingskontrak met Remgro (voorheen Unilever) het in Februarie vanjaar geëindig, maar vanaf 1 Maart lewer Clover dienste aan die Willowton-groep.

Clover het ook ’n nuwe vyfjaarooreenkoms, ter waarde van meer as R400 miljoen, met Danone Southern Africa gesluit om vanaf 1 Julie sekere pakhuis- en verspreidingsdienste te lewer. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.