Die maatskappy het hierdie erkenning aan Landbouweekblad gemaak nadat die teenstortingsbeweging FairPlay inligting in dié verband bekom het. CCCBSA sê hy het ’n “relatief klein” hoeveelheid suiker ingevoer as deel van sy “kommersiële imperatief” om suiker op “redelike kommersiële terme” te bekom.

Die maatskappy wou egter nie sê hoeveel suiker hy ingevoer het nie, en ook nie van waar af nie omdat dit marksensitiewe en vertroulike inligting is. Suiker kon weens ’n administratiewe oorsig in die Ministerie van Finansies vir die sewe weke van 28 Julie tot 15 September verlede jaar tariefvry ingevoer word.

Me. Motshidisi Mokwena is CCBSA se hoof van reputasie en regulatoriese sake. Sy sê kragtens die voorwaardes waaronder die Mededingingstribunaal in 2016 die samesmelting goedgekeur het wat dié maatskappy tot gevolg gehad het, het die CCBSA onderneem om “voort te gaan én waar moontlik” die aanskaffing van plaaslike produksiemiddele, wat suiker insluit, te bevorder.

PRYSSTYGINGS

Sy regverdig die suikerinvoer aan die hand van “beduidende, uitermatige materiële prysstygings” in ’n sektor wat reeds voordeel trek uit tariefbeskerming. Verder het die suikerbelasting wat op 1 April in werking getree het, CCBSA en die bedryf voor “materiële uitdagings” te staan gebring.

Mokwena het ook aangedui dat die CCBSA deelneem aan die gesprekke met die suikerbedryf deur die Departemente van Handel en Nywerheid en Ekonomiese Ontwikkeling.

Die maatskappy het ook voorleggings gedoen aan die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) rakende die Suikervereniging (SASV) se versoek dat die dollargebaseerde verwysingsprys vir suiker verhoog moet word van $566/ton tot $856/ton. Die nuwe verwysingsprys is egter net $680/ton.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.