Ingevolge die transaksie moet CCBSA oor die volgende drie jaar R80 miljoen per jaar aan die ontwikkeling van die plaaslike ekonomie bestee. Dit sluit in dat hy meer suiker van swart suikerboere sal verkry.

Die transaksie is deel van die voorwaardes wat in 2016 gestel is toe Coca-Cola (die Amerikaanse moedermaatskappy) die belang van SABMiller (nou deel van Anheuser-Busch InBev) in Coca-Cola Beverages Africa (CCBA) oorgeneem het.

AANPASSING

Destyds het die Mededingingstribunaal die oorname goedgekeur, maar gesê sy voorwaardes vir die vergroting van die bemagtigingsbelang moet teen 2021 nagekom word.

Die tribunaal het in Februarie 2021 in ’n verklaring gesê die voorwaardes moes aangepas word. Dit is omdat die uitbreking van die koronaviruspandemie veroorsaak het dat CCBSA nog nie die vereiste persentasie bemagtiging kon behaal waarop daar destyds ooreengekom is nie. Die groter geldelike inspuiting in die plaaslike bedryf is deel van die aangepaste voorwaardes.

Volgens mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, sal CCBSA, as deel van die bemagtigingingstransaksie, saam met die plaaslike suikerbedryf werk om die maatskappy se suikerverkryging van swart suikerboere te verhoog en sodoende transformasie in die sektor versnel en meer swart boere in die kommersiële landbousektor help vestig.

Die teikens sal in ooreenstemming wees met die Suikermeesterplan wat in November 2020 deur die suikerbedryf, werkers en die regering gesluit is. Ingevolge dié plan moet CCBSA en ander nywerheidsverbruikers vanjaar minstens 80% van hul suiker plaaslik verkry. In 2023 moet dié persentasie 95% wees.

AANDEELHOUERS

Patel het op ’n nuuskonferensie saam met mnr. Velaphi Ratshefola, besturende direkteur van CCBSA, ook gesê tot 8 000 swart werkers by CCBSA sal ingevolge die ooreenkoms tot 15% van die koeldrankmaatskappy se aandele verkry.

Tans besit die werkers sowat 5% van die maatskappy se aandele. Dit bring dus die totale aandeelhouding deur werkers op 20% te staan. “Dit sal een van Suid-Afrika se grootste skemas vir eienaarskap deur werknemers wees,” het Patel gesê.

Op sy beurt het Ratshefola gesê die bemagtigingstransaksie sal die oogmerke van alle belanghebbendes, van werkers en hul vakbonde tot aandeelhouers, onder ’n gemeenskaplike agenda saamsnoer. Die waarde van die transaksie is nie bekend gemaak nie, want CCBSA is nie ’n genoteerde maatskappy nie, maar Patel het dit in sy voorlegging as ’n “multimiljardrand-transaksie” bestempel.

Die transaksie sal na verwagting in Mei 2021 van krag word.