Boere moet hulle nie laat mislei deur die gedeeltelike opheffing van die betogings in die Wes-Kaap nie, maar hulle eerder voorberei op groter “moeilikheid” wat landswyd kan voorkom, aldus die TLU SA. Dié stelling volg op mnr. Tony Ehrenreich, streeksekretaris van Cosatu in die Wes-Kaap, se beweerde steling “die grondoorlog kom binnekort”.

Luidens ’n verklaring sê mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, dit is duidelik dat die vakbond vergoeding aan plaaswerkers gebruik om mense emosioneel op te sweep vir politieke optrede, vir kwessies soos grondhervorming.

“Die feit dat die staking op De Doorns en enkele ander plekke nog voortduur, is nie konsekwent nie, is ’n aanduiding dat hulle nie eerlik is met enige verdere onderhandelings nie en dat hulle die gedeeltelike voortsetting van die staking as afdreigmiddel gebruik,” aldus Meintjes.

Die organisasie is bekommerd oor die feit dat die staat die vakbond en betogers “sienderoë hul gang laat gaan” en toelaat dat wetteloosheid voorkom ten spyte van boere wat reuse-skade ly. “Die Regering behoort ’n beleid van onverdraagsaamheid teen enige vorm van wetsverbreking te handhaaf, maar in hierdie geval, waar sy alliansievennoot Cosatu betrokke is, word wetsverbreking toegelaat.”

Ingevoerde kos

Intussen sê Meintjes Ehrenreich en sy vriende moet “daad by die woord sit en nie meer hul monde sit aan enige kos wat deur Suid-Afrikaanse boere geproduseer is nie, maar slegs ingevoerde kos eet”.

Hy sê die ANC en sy bondgenote skuld die land se inwoners ’n duidelike antwoord oor wat hul einddoel ten opsigte van voedselproduksie op beskikbare landbougrond is. Meintjes beklemtoon dat voedseltekorte en prysstygings, wat ’n gevolg van die situasie kan wees, nie voor boere se deur gelê moet word nie.

Meintjes waarsku boere landwyd teen optrede wat kan volg op die situasie in die Wes-Kaap en die enkele ooreenkomste wat wel oor lone aangegaan is. Sou die totale bedryf gedwing word om dié ooreenkomste na te kom, sal afdankings in die landboubedryf selfs meer kan wees as dié in die mynsektor.

“Werkers sal egter ook moet besef dat as hulle op meer geld aandring, die werkgewers op meer produktiwiteit gaan aandring,” waarsku Meintjes.