Dié veranderinge in verbruikersgedrag en -besteding blyk uit die bekendmaking van Libstar se jaarresultate tot einde Desember 2020.

Libstar, met ’n goed gediversifiseerde portefeulje van meer as 9 000 produkte, onder meer versnaperinge (soos vrugtestafies), geriefskosse, speserye en suiwel-, vars en bakprodukte, het egter kop bo water gehou in ’n moeilike jaar.

Die groep ondersteun en moedig entrepreneurskap aan en kon ten spyte van moeilike ekonomiese omstandighede en struikelblokke verlede jaar steeds meer as 600 nuwe produkte deur verskeie van sy filiale aan verbruikers bekend stel.

Mnr. Andries van Rensburg, Libstar se uitvoerende hoof, sê die Covid-19-pandemie veroorsaak dat kruideniersaankope anders begin lyk het. Dít het ’n impak op die groep se resultate gehad en druk op sy winsmarges geplaas.

NIE-BEDERFBARE GOEDERE

Libstar het onder meer ervaar dat verbruikers in die hoërinkomstegroep meer as vantevore nie-bederfbare produkte soos pastas, souse en blikkiestamaties gekoop het. Speserye en souse het baie goed verkoop soos besoeke aan winkels en restaurante afgeneem het weens die grendeltydinperkings en mense eerder by hul huise kos gemaak het.

Die verkope van snoeperye, soos neute, vrugtestafies en Lancewood se gewilde Laughing Cow-driehoekkasies, het gedaal, want vir ’n groot deel van 2020 het werkende volwassenes en skoolleerders nie kosblikke gepak nie. Boonop lyk dit of verbruikers nou eerder die groter pakke neute en droëvrugte koop pleks van die kleiner geriefspakkies.

Libstar se bederfbare produkte, wat Denny-sampioene insluit, het ook nie goed gevaar in 2020 nie. Dit is juis die grendeltyd se sluiting van restaurante wat bygedra het tot Denny se 3%-daling in verkope. Denny het wel verlede jaar begin om innoverende produkte te bemark, soos pakkies gedroogde sampioene en plantgebaseerde wors en maalvleis wat vleisprodukte kan vervang, maar dit bly steeds een van Libstar se bekommernisse.

INFLASIE

Van Rensburg sê hulle is bekommerd oor die impak wat inflasie die komende jaar op verbruikers en verbruikersbesteding gaan hê. “Ons gaan inflasie dophou en ons verwag dat dit nog ’n moeilike jaar vir verbruikers gaan wees.”

Die groep het dit al in die verlede reggekry om aan te pas by veranderende verbruikersgedrag, soos om nuwe, gesonder alternatiewe – soos glutenvrye speserye van Cape Herb & Spice – en produkte wat vleis vervang – soos die maalvleis en wors wat Denny vervaardig – op die mark te plaas.

Volgens Van Rensburg is hul vermoë om by verbruikersgedrag aan te pas en daarmee saam Libstar se toespitsing op volhoubaarheid en omgewingsvriendelike produkte en vervaardiging, gunstige aspekte wat die groep vanjaar goed te pas sal kom.

KOntant beskerm

Libstar se inkomste het met 4% gestyg tot R10,3 miljard, maar sy winsgrens het tot 23,6% gedaal. ’n Dividend van 25c per aandeel is uitgekeer, wat onveranderd is van die vorige jaar se uitkeerbedrag.

Libstar het tydens die pandemie goed na sy werkers omgesien. Die groep het onder meer vir Covid-19-toetse by private sentrums betaal en Covid-19- verwante uitgawes van R64,7 miljoen aangegaan – wat daartoe bygedra het dat sy genormaliseerde bedryfswins met 13,1% tot R774,09 miljoen gedaal het.

Kontant uit bedryfsaktiwiteite het toegeneem tot R637,2 miljoen vanaf die vorige jaar se R579,8 miljoen. Die beskerming van kontant was juis een van die groep se doelwitte verlede jaar.