Hy sê terwyl die derde golf van die Covid-19-pandemie aangebreek het, veral in Gauteng en die Vrystaat, konsentreer die regering op die inenting gesondheidswerkers, mense bo die ouderdom van 60 en nou ook onderwysers, terwyl hulle vergeet van die noodsaaklike werkers in die landbousektor.

“Aangesien hulle ’n deurslaggewende rol in voedselsekerheid speel, doen Agri SA ’n beroep op die regering om hierdie sektor ook ingevolge die nasionale ontplooiing van die entstof te prioritiseer,” sê Van der Rheede.

Me. Andrea Campher, ramprisikobestuurder by Agri SA, sê dit is uiters belangrik dat boere ingeënt word aangesien dit hul verantwoordelikheid is om voedsel vir 59,62 miljoen Suid-Afrikaners te produseer en voedselsekerheid te handhaaf.

“Agri SA is bekommerd dat, indien noodsaaklike werkers soos boere en plaaswerkers nie deur die regering geprioritiseer word nie, dit ’n nadelige uitwerking kan hê op die uitsonderlike bydrae van die sektor ten opsigte van werkskepping, buitelandse valuta-verdienste en voedselsekerheid vir die land as geheel.”

Agri SA moedig boere en plaaswerkers oor die ouderdom van 60 aan om vir die inenting te registreer.