Teen 30 Julie is 2 727 gevalle (287 tans aktief) van dié virus in Breedevallei bevestig en 70 mense het weens die virus gesterf. In Langeberg is 959 gevalle (113 tans aktief) bevestig en 32 mense het weens die virus gesterf. Die munisipaliteite se herstelkoerse is onderskeidelik 86% en 84%.

Meyer en dr. Helena von Schlicht, burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, asook beamptes van die departement van landbou en gesondheid het gister met belanghebbendes van die munisipaliteite ontmoet.

Meyer sê dit is veral kommerwekkend dat meer mense tussen die ouderdom van 25 en 35 die virus opdoen en dat veral reëls rondom die handhawing van persoonlike afstand en die dra van maskers geïgnoreer word.

Volgens hom is dit bemoedigend dat die benutting van kwarantyn- en isolasiegeriewe in die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit gedurende die afgelope twee weke van 29% tot 57% toegeneem het. “Ek moedig diegene wat aan die virus blootgestel is of daarmee besmet is, aan om hierdie geriewe te gebruik.”

Daar word steeds op humanitêre ondersteuning en voedselhulp in Breedevallei en Langeberg gekonsentreer. Albei munisipaliteite het R850 000 vir voedselhulp van die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering ontvang. Die munisipaliteite koördineer ook voedselhulpinisiatiewe met die samewerking van plaaslike hulporganisasies vir veral haweloses, sentrums vir vroeë kinderontwikkeling en huishoudings in nood. Die Wes-Kaapse departement van onderwys het gedurende die inperking reeds meer as 112 000 leerders gevoed.

Meyer sê die klem moet nou van voedselhulp na voedselsekerheid geskuif word. “Ons Een huis, een tuin-veldtog voorsien ’n volhoubare manier om te verseker dat huishoudings toegang tot voedsame kos het en ’n inkomste kan verdien deur hul surplus produkte te verkoop.”

Gegewe Langeberg en Breedevallei se strategiese posisie in die landbousektor sal binne hierdie twee streke gekonsentreer word op die ontwikkeling van ’n ekonomiese herstelplan, om die verspreiding van die virus te beperk, die situasie by ouetehuise in die streke te stabiliseer en gedragsverandering met nakoming van veiligheidsmaatreëls te verbeter.

“Die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit is hoofsaaklik ’n landbougebied. Die landbou is die ding wat ons ekonomie deur die pandemie sal trek. Ons moet ook onthou dat die grootste padinfrastruktuurprojek in die Wes-Kaap tans in Langeberg plaasvind,” sê Von Schlicht.

Meyer sê die landbou moet die sleutel tot die ekonomiese herstel in die Wes-Kaap wees. “Ekonomiese herstel is nie sonder die landbou moontlik nie. Ons mikpunt is om mense se lewens en lewensbestaan te red.”