Meyer het vroeër vandeesweek Kalos Farms en die Dutoit-vrugteverpakkingsaanleg saam met mnre. Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, en Barnito Klaasen, burgemeester van Witzenberg, besoek.

Die Witzenberg-munisipaliteit, wat Ceres, Wolseley en Tulbagh insluit, het onlangs ’n groot toename in gevalle van Covid-19 ervaar onder werkers op vrugteplase in die gebied.

Hy sê besighede het verskeie maatreëls getref om te verseker dat afstandhouding gehandhaaf word, personeel hul hande was en geriewe gereinig word. Personeel word ondersoek wanneer hulle die persele betree om hul liggaamstemperatuur vas te stel. Hulle moet ook ’n vraelys invul en ontvang persoonlike beskermingstoerusting.

Kalos Farms het ’n isolasiegerief op die plaas voorberei om die las op die plaaslike hospitaal te verlig.Meyer sê sy departement het al 35 000 maskers na plaaswerkers en landboubesighede in Witzenberg versprei. Die departement stel ook inligting oor selfassessering by https://coronavirus.westerncape.gov.za/risk-assessment-covid-19 en verskeie ander hulpbronne by https://coronavirus.westerncape.gov.za/resources beskikbaar.

Volgens Meyer het sy departement ’n ekonomiese impakanalise met die samewerking van die buro vir voedsel- en landboubeleid onderneem om data in te win wat sy besluite oor die landbousektor help rig.

Winde sê die Wes-Kaapse regering beoog om pres. Cyril Ramaphosa te versoek om die vlak van inperking in die provinsie so gou as moontlik tot vlak 3 te verlaag aangesien die provinsie se gesondheidstelsel voorbereid is en vlak 4-maatreëls dus nie meer nodig is nie.

Winde sê die Wes-Kaapse regering verwelkom die nasionale regering se toegespitste plan. “Hierdie plan sal ons help om tesame met die private sektor die verspreiding van Covid-19 te keer en lewens te red, terwyl meer ekonomiese aktiwiteite toegelaat word wat veral arm en kwesbare mense se inkomste sal beskerm.”

Die Wes-Kaapse regering se gids vir die voorkoming en bestuur van Covid-19 in die werkplek is hier beskikbaar.

Rhodes Food Group

Intussen het Rhodes Food Group se inmaakfabriek op Tulbagh heropen nadat dit vir vier dae gesluit was vir ’n skoonmaakproses nadat nege werkers positief getoets het vir Covid-19. Die fabriek is geleë in die Witzenberg-munisipaliteit. 

Die voedselgroep het gister in ’n verklaring gesê die fabriek is deur die department van arbeid gelas om te sluit en RFG is gelas om ’n onafhanklike skoonmaakmaatskappy te kontrakteer om dit te ontsmet. “Die department het sedertdien bevestig dat die maatskappy se interne skoonmaakprotokol aan sy vereistes voldoen en dat dit nie verder nodig is om ’n eksterne skoonmaakmaatskappy te gebruik as ’n positiewe Covid-geval in ’n fabriek aangeteken word,” lui die verklaring.

Bedrywighede by die fabriek word in fases hervat.

“Hoewel die sluiting ons inmaakproses ontwrig het en dit van nasionale belang is dat ons voedsel en voedselprodukte tydens die inperking verskaf, kan ons nie die veiligheid van ons werknemers in gevaar stel nie,” het mnr. Bruce Henderson, uitvoerende hoof gesê.

RFG is een van die grootste werknemers in die Witzenberg-streek en Henderson het gesê die feit dat die aantal positiewe gevalle by die fabriek tot nege beperk is, getuig van die doeltreffende praktyke en protokolle wat gevolg word.