Mnr. Francois Knowles, registrateur van die landbouprodukte-agenteraad (Apac), sê ondanks twee onlangse voorvalle van die koronavirus by ’n veiling en ’n varsproduktemark is protokolle vir dié bedrywe gereed. Danksy goeie bestuur gaan sake op veilings en markte as noodsaaklike dienste voort.

Apac reguleer agente in die bedrywe vir vars produkte, lewende hawe en uitvoer.

In die jongste voorval is ’n produsent wat vee na twee veilings op Kroonstad vervoer het terwyl hy Covid-19 onder lede gehad het, opgespoor en behandel. “Die man, wat nie deel van die veilings was nie en gevolglik min kontak met mense gehad het, is ingevolge die veiligheidsprotokol getoets,” sê Knowles.

Sedertdien is geen nuwe gevalle van moontlike Covic-19-besmetting onder mense wat die veilings bygewoon het, aangemeld nie. Die veilings word weekliks voortgesit. In ’n ander voorval is ’n kassier van die Pietermaritzburgse varsproduktemark positief vir Covid-19 getoets.

Knowles ontken mediaberigte dat die mark gesluit is nadat sy siek geword het. “Dié mark se bedrywighede gaan soos normaal voort met inagneming van die toepassing van die veiligheidsprotokol om markgangers se veiligheid te verseker.”

Die maatreëls van die Apac-protokol vir veilings bepaal onder meer dat nie meer as 50 mense ’n veiling mag bywoon nie, handreinigingsgeriewe moet strategies geplaas word, persoonlike kontak tussen mense moet vermy word, en oppervlakke wat aangeraak word, moet gereeld ontsmet word.

Soortgelyke maatreëls ter voorkoming van die verspreiding van siektes deur middel van kontak geld by varsproduktemarkte.

Intussen word veilings in die Noord-Vrystaat voortgesit en dieselfde neigings van die eerste week van die tyd van inperking geld. Die veilings word op kleiner skaal voortgesit of vind glad nie plaas nie. Derhalwe kan net prysneigings weergegee word en nie akkurate pryse nie.Die prys van diere wat dadelik geslag kan word, bly goed, in teenstelling met die prys van speenkalwers en stoorlammers. Waarnemers op die veilings sê die prys van diere wat afgerond moet word, is onder druk weens die onsekerheid oor die lewendehawemark oor die volgende drie maande. Die informele mark het drasties gekwyn, hoofsaaklik omdat groot begrafnisse en byeenkomste verbied word.

Aanduidings van die beste pryse (per kg lewende gewig) vir lewende hawe in die Noord-Vrystaat (Dinsdag, 7 April), was: beeste: speenkalwers R30; A-klasse R26,50; vet koeie (C-klas) R20,50; slagbulle R21; en skape: slaglammers R33 en vet skape R25,50.