“Baie neigings wat al jare lank onder die oppervlak prut, soos meganisasie, die vierde nywerheidsrevolusie of mense wat na die aanlyn sfeer beweeg, het nou versnel. En mense wat gekant was daarteen om hierdie nuwe dinge op die proef te stel, word nou gedwing om dit te doen. Ons kan vind dat hierdie mense moeilik gaan terugkeer na die ou manier van doen,” het Nkosi tydens ’n aanlyn seminaar deur die varsproduktebemarkingsvereniging (PMA) gesê.

In Amerika en Europa het die broosheid van die arbeidsmag duideliker geraak namate die pandemie vorder.

“Ons het die implikasies daarvan op produksie gesien. Mense het siek geraak of moes veilig gehou word. Daar was gevolglik ’n versnelde skuif na meganisasie. Dit was nie weens die kostevoordeel tussen arbeid en tegnologie nie, maar omdat ons gesien het hoe kwesbaar die verskaffingsketting raak as gevolg van die arbeidselement.”

Wat tegnologie betref, het ekonome gereken aanlyn inkopies en die vierde nywerheidsrevolusie behoort aan die verre toekoms.

“Ons besef nou dis heelwat nader as wat ons gedink het. Dit kan ’n neiging wees wat baie moeilik is om om te keer sodra mense besef hoe gerieflik dit is.”

Sy raai sake-eienaars dus aan om beleggings te oorweeg wat hul ondernemings op datum met die nuutste tegnologie gaan bring.

Nuwe mededingers gaan ook kop uitsteek op onverwagse plekke, voorspel sy. As voorbeeld noem sy restaurante wat ook as klein kruidenierswinkels begin handel dryf.

“Mense gaan besef hulle het die infrastruktuur om iets anders te doen, daarom dring hulle markte binne waar jy nie verwag het om hulle te sien nie.”

Dit kan ondernemings wat onder die indruk was dat hulle oor ’n mededingende voordeel beskik, ontwrig.

Hoop op uitvoermark

Nkosi het gesê hulle verwag dat uitvoermarkte vinniger gaan kop optel as die plaaslike mark vanweë die stimulusbeleid in Westerse en Oosterse lande.

“Ons sal waarskynlik ’n groter herstel in die vraag na Suid-Afrikaanse hoëwaardeprodukte in die uitvoermarkte as plaaslik sien.”

Weens werkloosheid kan daar egter eers ’n effense daling wees. ’n Werkloosheidsyfer van sowat 20% staar Amerika tans in die gesig. Dit sal ’n invloed op verbruikers se besteebare inkomste hê.

“Ons kan egter nie net kyk na werkloosheidsyfers nie, maar moet ook kyk na die stimuluspakkette wat regerings en sentrale banke aangekondig het.”

Wat die plaaslike mark aangaan, glo sy die informele sektor gaan die hardste getref word.

“Dinge lyk rooskleuriger vir verbruikers met ’n hoë inkomste wat in die formele sektor in diens geneem word. Hulle sal die skokke beter kan hanteer. Selfs as daar werkverliese is, het hulle waarskynlik meer spaargeld, soos pensioenfondse. As jy luukse produkte in die varsproduktemark produseer, is jy dalk in ’n beter posisie as wanneer jy op verbruikers uit die laerinkomstegroep konsentreer.”