Crookes Brothers bedryf reeds drie sulke projekte saam met gemeenskappe wat begunstigdes in restitusie-eise was. Mnr. Guy Clarke, die maatskappy se besturende direkteur, sê in ’n videoverklaring op die maatskappy se webwerf die suikerbedryf beleef tans “ongekende onstabiliteit en onsekerheid”.  

Die Regering se besluit om die onteiening van grond sonder vergoeding te ondersoek speel ’n beduidende rol daarin. Hy sê egter in die lig van pres. Cyril Ramaphosa se stellings nadat die resolusie ingestem is, is die maatskappy “vol vertroue dat redelikheid sal seëvier”.

Hy sê die herwinbare waarde (recoverable value) van suikerriet was in die 2017-’18-boekjaar 14% laer as in die ooreenstemmende tyd die vorige jaar. Die openingsprys vir die nuwe jaar sal na verwagting ’n verdere 7% laer wees, wat die reële prysverlaging op meer as 30% te staan bring.

Die maatskappy se sagtevrugte-afdeling het ook gesukkel weens lae pryse verlede jaar, maar die verwagting is dat pryse sal styg weens die erge koue in Europa en die droogte in die Wes-Kaap. Crookes Brothers se plase in die Wes-Kaap het volgens hom voldoende watervoorraad vir die huidige sowel as die komende seisoen, mits die gebied dié winter genoeg reën kry.