Voor in die koor was dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, wat wou weet waarom dit vir Ramaphosa so moeilik is om hom teen plaasmoorde uit te spreek. “In Suid-Afrika het ons swart boere, Indiërboere, bruin boere en wit boere. Jy moet die boere bedank vir die kos wat jy vanoggend vir ontbyt gehad het.”

Hy het Ramaphosa daarop gewys dat hy onmiddellik opgetree het toe moskees in KwaZulu-Natal en Malmesbury ongeveer hierdie tyd verlede jaar aangeval is. ’n Presidensiële komitee is aangewys om die kwessie te ondersoek.

Groenewald het gesê dat ’n plaasmoord nie net ’n moord op ’n individu is nie, maar een teen ’n gemeenskap. “Dit is die vroue en die kinders wat die prys betaal vir ’n plaasmoord. Hulle word gemartel en kookwater word in hul kele afgegooi. Vroue word met warm strykysters gebrand. ’n 12-jarige meisie is gedwing om toe te kyk hoe haar ma verkrag word. Dis marteling, maar steeds weier jy om in die openbaar ’n uitspraak daarteen te doen.”

Ramaphosa het in sy staatsrede nie duidelike rigting aangedui van hoe die lewens van Suid-Afrikaners, veral ten opsigte van werkskepping en die bekamping van misdaad, verbeter sal word nie. Hy het sy tienjaarplan vir ekonomiese groei aangekondig, asook dat die voorkoms van geweldsmisdaad oor hierdie tydperk gehalveer moet word.

Polisiediens

Provinsiale regerings moet in beheer van die polisiediens geplaas word om ’n veilige land te verseker, het mnr. Mmusi Maimane, DA-leier, aan Ramaphosa voorgestel.

Mmusi Maimane,
Mnr. Mmusi Maimane, DA-leier. Foto: GCIS

Die Wes-Kaapse regering het reeds ’n inter-regeringsdispuut met mnr. Bheki Cele, minister van polisie, verklaar. Die Wes-Kaap het verlede jaar R5 miljoen aangebied vir die aanstel van reserviste en ook personeel bewillig om administratiewe take van polisiebeamptes oor te neem sodat daar meer sigbare polisëring is om misdaad te voorkom. Hy sukkel sedert verlede jaar om ’n antwoord op sy aanbod te kry.

As die regering Suid-Afrikaners veilig in hul huise en op straat wil hou, moet die Suid-Afrikaanse Polisiediens goeie hulpbronne hê, goeie opleiding ontvang en ’n hoogs professionele misdaadbekampingseenheid tot stand bring, het Maimane gesê.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.