Daar is ook nog drie voorkeursake wat die bal aan die rol moet sit om die land se ekonomie ’n hupstoot te gee. Dit is die bou van infrastruktuur reg oor die land, die uitbreiding van die land se kragopwekkingskapasiteit en nywerheidsontwikkeling.

Die staat het vroeër vanjaar reeds R100 miljard bewillig oor die volgende drie jaar vir werkskepping deur openbare en maatskaplike indiensneming. Hierdie ingryping is onmiddellik van krag, met meer as 800 000 werksgeleenthede wat voor die einde van die huidige boekjaar geskep sal word. Altesaam R13,8 miljard sal hieraan toegewy word.

Meer as 60 000 werksgeleenthede sal beskikbaar gemaak word vir arbeidsintensiewe onderhoud en bouwerk aan munisipale infrastruktuur en landelike paaie.

Die werkskeppingstimulus sal ook direk lewensbestaan ondersteun en werk in kwesbare sektore beskerm. Ondersteuning word onder meer gebied vir meer as 100 000 vroeëkinderontwikkelingpraktisyns en 74 626 kleinskaalse boere wie se produksie deur die Covid-19-pandemie ontwrig is. Verligting van R1 miljard word aan die boere toegestaan.

Voedselsekerheid is noodsaaklik vir die verwerkliking van groei en stabiliteit. Die pandemie het die belangrikheid van voedselsekerheid beklemtoon, en ook die rol wat die informele kosketting speel.

Die maatreëls wat in die omvattende grond-en-landboustrategie vervat is, sal 317 000 nuwe werksgeleenthede skep en kosproduksie uitbrei. Die meeste van hierdie werk sal die private sektor skep in die vrugtebedryf en ander gewasse van hoë waarde. Meer as R80 miljard se bruto produksiewaarde sal geskep word.

Landbou staan voor in die ry

Agri SA meen die landbousektor sal die weg baan om die ekonomie te herstel. Boere-ontwikkeling, landelike veiligheid en marktoegang is die sleutelaandrywers vir hierdie doelstelling. Die organisasie sê hoewel die herstelplan sleutelkwessies in die sektor uitlig, bevat die plan min detail van hoe dit aangepak sal word en wat die tydlyn sal wees.

Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri SA se afdeling vir ekonomie en handel, sê kwessies wat dringend aangepak moet word, is onder meer die beskikbaarheid van goedkoop kapitaal, grondregte, verblyfsekerheid, waterregte en korrupsie. Agri SA meen om die land se landbousektor te laat groei, moet die bestaande kennis en kundigheid in die sektor gebruik word.

Mnr. Henry Geldenhuys, president van TLU SA, sê Ramaphosa se plan klink alles goed op die oor, maar die kern van die probleem is steeds die beleidsomgewing wat kundigheid uit Suid-Afrika verdryf het. “Die vermoë om te kan lewer, het weggekwyn en die vermoë om dienslewering te laat realiseer is ongelukkig nek omgedraai.” TLU SA is tevrede dat daar ’n sterk klem op plaaslike produkte en produksie sal wees en ondersteun hierdie beleid.

“Ons sal wil sien dat die vier bene van die herstelplan in praktyk ’n verskil maak. Die ekonomie laat hom nie reguleer deur politieke aankondigings van wie moet wat doen nie. Die markkragbeginsel is bepalend om enige pogings tot herstel te evalueer. Individue moet die verantwoordelikheid aanvaar van wat die ekonomie opeis.”

Teleurstellend

Die VF Plus vind Ramaphosa se ekonomiese herstelplan teleurstellend in die lig van die omvang van die land se ekonomiese en fiskale krisis.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê alles wat die president aangekondig het, was bloot ’n herhaling van vorige beloftes en planne. “Die president en die ANC gaan voort om die verkeerde dinge te doen soos om te volhard met beleid soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), onteiening sonder vergoeding en stremmende arbeidswetgewing wat eerder beleggers verdryf as wat dit ekonomiese groei sal bewerkstellig en werk sal skep.”

Die enigste manier om die ekonomie op lang termyn te red is om belastings en tariewe te verlaag, besteebare inkomste te bewerkstellig en Suid-Afrika aanloklik vir beleggers te maak.

Selfs die 800 000 werkgeleenthede wat geskep gaan word, is niks anders nie as ’n verlengstuk van die Covid-19-stimuluspakket aangesien die staat die poste kunsmatig skep en die salarisse betaal gaan word met belastinggeld wat nie daar is nie, sê Groenewald.

Nie een van die nuwe werkgeleenthede wat Ramaphosa voorsien, gaan deur spontane ekonomiese groei geskep word nie. Dit is bloot ’n verdere uitbreiding van die reeds bestaande en onvolhoubare welsynstaat.

Die 800 000 poste moet ook gesien word teen die agtergrond van 2 200 000 werksgeleenthede wat in die inperkingstydperk verlore gegaan het, en die miljoene meer Suid-Afrikaners wat selfs voor die pandemie nie werk kon vind nie.