Só sê mnr. Hugo Pienaar, ‘n senior ekonoom by die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BER) aan die Universiteit Stellenbosch.

Internasionale faktore wat die rand kan laat verswak of versterk, sluit in vooruitsigte vir ’n styging in Amerikaanse rentekoerse en ekonomiese groei, veral in China. Plaaslike faktore sluit in die algemene verkiesing, onsekerheid oor grondhervorming en hoe die graderingsagentskap Moodys Suid-Afrika se beleggingstatus beoordeel.

Tog dink hy daar is beperkte ruimte vir die rand om volhoubaar veel sterker te word. 

Pienaar sê die beginpunt is die wisselkoers tussen die dollar en die euro. “As die Amerikaanse Federale Reserweraad se vooruitskatting van rentekoersverhogings waar word, gaan die rentekoers in Desember waarskynlik met 25 basispunte verhoog word, en dan nog drie keer volgende jaar. As hy daarmee volhou, gaan die dollar sterk bly. Daar gaan dus nie veel hulp vir die rand van ‘n veel sterker dollar kom nie.”

Pienaar sê as die Europeërs ook begin om rentekoerse te verhoog, kan die dollar ’n bietjie verswak.Die ander groot faktor is wat met ekonomiese groei in die wêreld, veral China, gebeur. “China is belangrik vir Suid-Afrika as land wat verskillende minerale produseer.”

Pienaar sê die Chinese ekonomie is besig om stoom te verloor. Groei kan verder gedemp word as Amerika meer tariewe op Chinese invoer hef. “Dit sal nie baie goeie nuus vir kommoditeitspryse wees nie.”

Grond, Moodys en stemme

Op die tuisfront kan volgehoue onsekerheid oor die grondkwessie die rand laat verswak. Pienaar sê as die graderingsagentskap Moodys besluit om Suid-Afrika se beleggingstatus na rommel te verlaag, kan die rand onder druk kom. Die agentskap sal sy gradering ná die begrotingsrede volgende jaar aankondig.

Die uitslag van die algemene verkiesing volgende jaar kan ook die rand laat versterk of verswak. “Hier dink ons aan die mate waartoe die EFF se steun styg en daar dalk ‘n koalisieregering in Gauteng kom,” sê Pienaar.

Nog ‘n rede waarom die verkiesing belangrik vir die wisselkoers is, is dat kiesers dalk vir mnr. Cyril Ramaphosa ‘n sterker mandaat kan gee om sekere veranderinge af te dwing wat die rand kan laat versterk.

Soos vroeër gesê verwag Pienaar nie groot skommelinge nie, tensy die verkiesing ‘n verrassing oplewer, soos baie groot steun vir die EFF. “Ons het die laaste paar jaar gereeld sulke verrassende verkiesingsuitslae gesien, byvoorbeeld die verkiesing van mnr. Donald Trump as Amerikaanse president en Brexit.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.