Sy sê die ANC het skielik oor boere besorg geword toe die DA in Junie sy 16-punt-plan bekend gestel het om die aandag op plaasaanvalle en -moorde te vestig. “Oornag het premiers en ministers begin belang stel in die marteling en gruweldade wat met Suid-Afrikaanse plaasaanvalle gepaardgaan. Hulle het hulself begin uitspreek daarteen. Ons het hulle amper geglo.”

Kohler Barnard sê een van die doelwitte van die DA se 16-punt-plan was om plaasaanvalle en -moorde as ’n prioriteitsmisdaad te laat verklaar sodat bykomende hulpbronne daarvoor gewaarborg kan word.

Sy sê Cele het in reaksie op ’n parlementêre vraag deur die DA op 18 Augustus gesê die polisie se moord-en-roofeenheid en die Valke sal op alle aanvalle op plase en kleinhoewe reageer. “Toe ons hom gevra het om die lys prioriteitsmisdade voor te lees, het hy gesê hy het reeds die lys voorgelees en dat dit aanvalle op plase en kleinhoewe bevat, dat dit reeds ’n prioriteit was.”

Kohler Barnard sê Cele het egter in sy skriftelik reaksie op die vraag aangedui dat plaasaanvalle en -moorde nie as prioriteitsmisdade geklassifiseer word nie.

Kohler Barnard sê dit is interessant dat Cele bereid was om transitorooftogte dadelik as ’n prioriteitsmisdaad te verklaar. “Dit laat die vraag ontstaan of ’n trok vol geld meer vir hom beteken as die lewens van die mans en vroue wat ons voedsel produseer. Is dit vir die DA nodig om vir hom te sê dat ’n mens nie geld kan eet nie? Dat die landbousektor met sy 1 miljoen werksgeleenthede ons land se ruggraat en ’n strategiese hulpbron is? Dat boere en plaaswerkers skaars kan slaap omdat hulle lê en wag vir die volgende aanval?”

Sy sê die ANC gee al geruime tyd voor dat landelike lewens saakmaak. “Dit was ’n leuen. Cele het die brose hoop wat daar was, vernietig. Op sy vergadering in KwaZulu-Natal het sy arrogansie teenoor boere wat al herhaaldelik aangeval is, die gemeenskap woedend en hopeloos gelaat.

“Nou weet ons die waarheid. Die aanvalle op boere is nie vir die ANC ’n prioriteit nie. Plaasmoorde is nie belangrik nie, beslis nie belangriker as ’n trok vol kontant nie.”

'Onaanvaarbaar'

Mnr. Pieter Groenewald, die VF Plus-leier, sê Cele se uitlating dat boere nie moet kla as hulle seerkry nie, is niks anders as subtiele aanhitsing tot geweld teen boere nie. Dit is duidelik dat Cele kant kies en sodoende geweld tussen boere en grondbesetters aanhits.

“Wat gister se vergadering op Normandien by Newcastle in KwaZulu-Natal aanbetref, is dit hoogs onaanvaarbaar dat die minister ná klagtes van die gemeenskap sê hy sal ’n saak teen ’n boer laat heropen nadat die saak reeds in ’n hof gedien het en die boer onskuldig bevind is.

“Dit beteken die minister toon nie respek vir die reg nie en dat hy die hof se uitspraak ondermyn.”

Hy sê die VF Plus vra daarom wie die minister van polisie dink hy is om te kan besluit dat ’n saak wat afgehandel is, mag heropen word. “Dit sou beteken Suid-Afrika word ’n polisiestaat, wat totaal onaanvaarbaar is.”

Groenewald sê Cele moenie die indruk probeer wek dat hy ernstig is oor plaasaanvalle en -moorde en dit wil oplos, maar terselfdertyd vergaderings met die gemeenskap hou wat ’n platform bied om boere aan te val en vals te beskuldig nie.

“ ’n Vergadering soos dié op Normandien, waar mnr. Glen Rafferty (63) en sy vrou, Vida (60), drie weke gelede vermoor is, dra bloot daartoe by om spanning en polarisasie in die gemeenskap te veroorsaak.

“Die minister moet te alle tye onpartydig optree en nie uitsprake maak wat die indruk wek dat hy kant kies nie. Dit is die polisie se plig om alle grondeienaars se regte te beskerm, ook teen onwettige besetters wat wel vir grondeienaars ’n bedreiging inhou.”

Aanlyn petisie

Intussen het AfriForum ’n aanlyn petisie vir die prioritisering van plaasmoorde van stapel gestuur. Elke keer wanneer iemand op dié petisie se “stuur”-knoppie druk, word ’n e-pos direk na Cele se kantoor gestuur.

Mnr. Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê Cele se stelling dat plaasmoorde nie ’n prioriteit is nie, bevestig wat nog al die jare die werklikheid in Suid-Afrika is. “Die bewering dat dié misdaadverskynsel nie geprioritiseer kan word nie omdat dit bloot ’n verskyningsvorm van ander misdade is, is irrasioneel omdat álle prioriteitsmisdade verskyningsvorme van ander misdade is.

“Renosterstropery is ’n verskyningsvorm van stropery; transitorooftogte is ’n verskyningsvorm van motorkaping en ander misdade; koperkabeldiefstal is ’n verskyningsvorm van diefstal; bendegeweld is ’n verskyningsvorm van moord, aanranding en ander misdade; geweld teen vroue is ’n verskyningsvorm van ’n aantal misdade. Só kan ons voortgaan.

“Cele se uitspraak is niks anders as diskriminasie teen boere nie, omdat dit klaarblyklik nie by die regerende party se politieke projek inpas om hom met die veiligheid van voedselprodusente te bemoei nie.

“Plaasmoorde is ’n unieke misdaadverskynsel wat unieke gevolge vir die samelewing as geheel inhou. Dít is genoeg rede om dit te prioritiseer.”

Die publiek word aangemoedig om die petisie by www.stopdiemoorde.co.za te ondersteun.