Die party het sy planne bekend gemaak van hoe hy die landelike gebiede veiliger wil maak. Hy het ook ’n debat in die nasionale vergadering aangevra oor die vlaag plaasmoorde en -aanvalle wat die landelike gemeenskap lamlê.

Sedert die nasionale inperking weens die voorkoms van Covid-19 in Maart ingestel is, is daar ’n beduidende styging in die aantal plaasaanvalle. Bevestigde syfers hiervan was teen druktyd nie gereed nie.

Hierdie misdade gaan gepaard met die marteling van boere, hul gesinne, plaaswerkers en gaste. Pleidooie uit verskeie oorde dat plaasaanvalle en -moorde as ’n prioriteitsmisdaad verklaar moet word, het sover op dowe regeringsore geval. Die geskatte koste van misdaad wat die landbousektor in 2019 beïnvloed het, het sowat R10 miljard beloop en uitsetverliese het R20 miljard beloop.

Me. Dianne Kohler-Barnard, LP en voorsitter van die DA se werkstroom oor landelike veiligheid, sê die party sal wanneer dit gepas is, plaasmoorde en -aanvalle as haatmisdaad aanmeld. Sake van haatspraak sal ook aanhangig gemaak word teen diegene wat op sosiale media en ander platforms uitlatings ten gunste van hierdie misdrywe maak.

Sy sê omdat plase afgesonder is, het aanvallers baie meer tyd het om hul slagoffers te martel.

Boere wat reeds swaar dra aan landbouskuld weens onder meer vorige droogtes en nou die gevolge van die inperking, moet boonop baie geld uitgee om hul plase te beveilig. ’n Versoek sal gerig word dat belastingverligting gebied word vir boere wat private sekuriteitsmaatskappye moet betaal. Daar sal ook gevra word vir subsidies vir plaaspatrollies en maatskappye wat sekuriteit in landelike gebiede bied.

Prioriteitsmisdaad

Plaasmoorde moet verklaar word as ’n prioriteitsmisdaad omdat dit ooreenkomste toon met die trio-misdade wat huisrooftogte, sakerooftogte en motorkapings insluit. Die party gaan ook druk uitoefen vir ’n gespesialiseerde eenheid wat landelike gemeenskappe beskerm. “Daar moet ’n toegewyde strategie vir plaasaanvalle en -moorde wees wat op die verantwoordelike misdaadgroepe toegespits is, soos wat met trio-misdade gedoen word.”

Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê dit duur tot tien jaar vir die howe om sake van plaasmoorde en -aanvalle af te handel.

DA-raadslede of aktiviste sal nou aangesê word om die sake te volg en verslag te doen aan die boere om te verseker dat hulle nie hofsake misloop nie en te verseker dat elke saak tot die einde deurgevoer word.

Nog ’n probleem is dat die beperkte of ou navorsing oor plaasaanvalle, beide op regerings- en akademiese vlak. ’n Dringende beroep sal gedoen word vir nuwe navorsing oor landelike sekuriteit.

Om plaasmoorde doeltreffend aan te pak, sal die bydraende faktore bepaal en die onderliggende oorsake geïdentifiseer en verstaan moet word.

Die party sal vra vir verbeterde ondersoekvermoë by landelike polisiekantore om te verseker dat plaasaanvallers aangekeer word. Verhoogde polisiesigbaarheid en die gebruik van alle beskikbare hulpmiddels soos honde-eenhede en selfs hommeltuie kan help om oortreders aan te keer. Die party sal ook vra vir verbeterde misdaadintelligensie om plaasaanvalle te voorkom en beter grensbeheer.